Thursday 11 July 2013

Gee vandag die blomme


Johannes 15 : 12  Dit is my opdrag: Julle moet mekaar liefhê soos Ek julle liefhet.

Ons het binne 'n week twee familielede aan die dood afgestaan. Jy kan nie 'n begrafnis bywoon sonder om aan jou eie sterflikheid herinner te word nie.  Niemand van ons weet wie volgende is nie. Juis daarom moet ons blomme uitdeel terwyl ons geliefdes nog daar is.

Soms raak jy so gewoond aan iemand dat jy nie meer komplimente gee of liefde daadwerklik betoon nie.  Elkeen is so besig met sy eie lewe dat jy by mekaar verbyleef.  Daar is krisisse om te oorkom en jy word sodanig in jou eie gedagte- wêreld vasgevang dat jy nie oplet dat jy minder aandag aan iemand gee nie.  Of daardie iemand jou man/vrou, kind, ouers, vriende is, is irrelevant.  Wat wel relevant is, is dat jy jouself tot stilstand moet dwing en regmaak voor dit te laat is.  Jy wil nie met verwyte by ‘n oop graf staan nie. 
 
In retrospek kan ons altyd insien wat die regte ding was om te doen.  Om mekaar lief te hê, is ‘n opdrag van God:  gee vandag die blomme, die aandag, die liefde, die drukkies en sê dat jy omgee, selfs al moet jy dit altyd eerste doen, of die ander wang draai, want ons weet nie een wanneer ons laaste dag aanbreek nie.  Daar word altyd mooi dinge op mense se begrafnis kwytgeraak en dis reg so, maar hoekom doen ons dit nie meer terwyl die persoon dit self kan hoor nie? 
 
Maak iemand se dag vandag deur vir hom/haar te vertel wat jy omtrent hom/haar bewonder of waardeer.  Maak die oproep, reël die besoek. 

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...