Monday 29 July 2013

Dankie, dankie Jesus

Markus 6 : 5  “Hy kon daar geen enkele wonderwerk doen nie, behalwe dat Hy sy hande op 'n paar siekes gelê en hulle gesond gemaak het.“

Toe Jesus in sy geboortedorp kom, wou die mense niks van Hom weet nie.  Hulle het Hom as net nog ‘n mens gesien.  Vir hulle was hy Josef, die timmerman se seun met broers en susters wat hul by naam geken het.  Hoe kon Hy spesiaal wees? 
Ek het myself afgevra of ek anders oor hom sou voel as ek destyds geleef het.  En ongelukkig moet ek erken dat ek ook maar skepties sou wees, behalwe as ek Sy wonderwerke sou aanskou.  So hoe op dees aarde wil ons nou mense oortuig om te glo in ‘n God wat hul nie kan sien nie? 
Deur hul te vertel van dit wat God in jou eie lewe doen.  Ons hoef nie vreeslik lank te dink om te weet wat hy alles vir ons doen nie.  Die dak oor ons kop, ons gesin, ons werk, ons besittings – dit kom alles uit Sy hand.  Deure gaan nie maar sommer net oop nie.  Iemand skakel jou nie uit die bloute nie…  Jy wou so graag daardie pos gehad het en jy was SO teleurgesteld toe jy dit nie kry nie en kort daarna word jy verstom deur ‘n beter geleentheid…  Die verhouding wat misluk het en jou met ‘n gebroke hart gelaat het en kort daarna ontmoet jy die mees perfekte lewensmaat… Jy wou van baan verwissel, maar iets weerhou jou daarvan en net die volgende oomblik snel ‘n motor langs jou verby – dis altyd die hand van God. 
Vertel vir ander van hierdie ‘profeet’ wat nie onder Sy eie mense erken is nie. Vertel vir hulle van die groot en die klein wonderwerkies wat jy ervaar.  Om erkenning aan God te gee, sal die sluise van die hemel vir jou open. 

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...