Wednesday 4 December 2013

Droom groot

Openbaring 21 : 5  Toe sê Hy wat op die troon sit: “Kyk, Ek maak alles nuut.” En daarna sê Hy: “Skryf hierdie woorde op, want hulle is betroubaar en waar.”

Daar’s iets waaroor jy nou al ‘n hele ruk droom.  Aanvanklik was dit net ‘n gedagte, maar mettertyd het dit gestalte gekry en nou is dit al waaraan jy kan dink. 
Dink ‘n bietjie terug aan drome wat jy oor die afgelope jare gehad het.  Dalk het jy aspirasies gehad om die hoogste sport in jou loopbaan te bereik…  Jou huwelik het met sterre in jou oë begin met die hoop op ‘n lang en gelukkige paadjie saam…  Met die geboorte van jou kind het jy dalk drome vir hom of haar gehad…  Dalk het jy op ‘n stadium gebrand vir Jesus…  Hoe dit ookal sy, iewers langs die pad het jy stoom verloor.  Miskien is jy ontnugter of miskien het jy te veel teestand ervaar om voort te beur.  Dis wanneer meeste mense besluit dat die kool eenvoudig nie die sous werd is nie. 
Vandag wil God jou aan daardie drome herinner.  Jy verdien veel meer as waarvoor jy jouself krediet geen. Ja goed, dinge het dalk nie uitgewerk soos jy gedroom het nie, maar nou is nie die tyd vir ‘as ek maar net’ gedagtes nie.  Nou is die tyd om op te staan en jou drome met nuwe ywer aan te pak. En as daardie droom regtig nie meer so aantreklik lyk nie, begin droom van vooraf, maar droom groot!  Moenie so nederig wees en dink dat goeie en groot dinge net vir ander beskore is nie.  Jy verdien dit net soveel soos enige iemand anders en daar is geen rede hoekom voorspoed nie jou deel ook kan wees nie.  Terwyl jy ewe goedgemanierd eenkant sit en wag dat dinge gebeur, stap vadertyd sekonde vir sekonde voort.
Rig jou oog op Jesus.  Laat toe dat Hy jou vernuwe, jou drome en jou gedagtes.  Hy sal jou nuwe krag gee.  Vertrou dat Sy Woord jou tree sal rig en dank Hom omdat Hy alles in jou lewe nuut gaan maak.  Opwindende tye lê voor…

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...