Sunday 12 January 2014

Waar is die ander nege dan?

As vandag jou eerste dag terug op kantoor is, baie welkom terug.  Mag 2014 vir jou 'n besonderse jaar wees.

Lukas 17 : 17  Toe sê Jesus: “Was daar nie tien wat gesond gemaak is nie? Waar is die ander nege dan?

Tien mans het Jesus gestop op pad na Jerusalem.  Hulle was melaats en het Hom gevra of Hy Hom oor hul sou ontferm.  Hy het hulle gevra om hul aan die priesters te gaan toon.  Op pad het hul agtergekom hul is genees.  Net een het omgedraai om Hom te prys. 

Aan die einde van 2013 het ek 'n uitnodiging gerig om te getuig oor dit wat God dalk vir jou gedoen het.  Hier is annoniem se getuienis:

“Ek kan baie getuig van God se goedheid in 2013. Weereens het ek besef dat die Here se genade vrylik beskikbaar is vir elkeen! Ons moet net met ‘n verwagting leef dat Jesus aan ons kant is en net die beste vir ons wil hê. Gedurende 2013 het ek weereens gesien en beleef hoe die Here in my lewe werk- ek’t besef dat Sy tyd nie noodwendig my tyd is nie. Na n paar jaar kan ek in 2014 weer begin studeer! Ek het in 2013 getrou, ‘n plekkie kon koop, keuring gekry vir n studierigting en dit was ‘n jaar van vele hoogtepunte en ook baie laagtepunte, tog het dit my weereens God se grootheid en goedheid laat raaksien. Ek’t baie keer nie geweet waar die finansies vandaan gaan kom nie, maar God voorsien ALTYD! Soms op ondenkbare maniere. 2013 het my geleer om in geloof te leef en te glo dat die deure wat toegemaak word is altyd omdat ‘n ander deur besig is om oop te maak! Ek dank God aan die einde van die jaar vir gesondheid, familie en Sy genade!”

Wat ‘n ‘amazing’ getuienis.  Baie dankie dat jy dit met ons deel, Annoniem.   Elke gelowige kan hul vereenselwig met jou woorde  - God se genade altyd daar!   So getrou is God en so dra Hy ons.  Soms dink ons Hy het ons vergeet, maar dis net omdat ons nie kan sien waarmee Hy agter die skerms besig is nie.  Onthou altyd dat God jou ontsettend lief het en dat Hy net die beste vir jou toekoms beplan. Vertrou Hom en geniet elke oomblik van Sy sorgsame Vaderhand oor jou lewe. 

Nie almal het toegang tot die dagstukkies gedurende die vakansietyd nie.  As jy nog wil getuig is jy baie welkom.




No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...