Sunday 30 March 2014

Praat net goed

Efesiërs 4 : 29  Vuil taal moet daar nooit uit julle mond kom nie; praat net wat goed en opbouend is volgens die eis van die omstandighede, sodat dit julle hoorders ten goede kan kom

Afrikaans is een van die mooiste tale, maar daar is diegene wat nie ‘n sin sonder vuil taal en/of kragwoorde kan uiter nie.  Dit is asof kragwoorde so deel van hul manier van praat is, dat hul dit nie eens meer agterkom nie.   Jy kan steeds jou boodskap of gevoelens oordra sonder om kragwoorde te gebruik.  Vuil taal of suggestiewe opmerkings is net so ‘n euwel, want dit weerspreek waardes soos respek, wat ons elkeen teenoor mekaar behoort te demonstreer.

Jy kan maklik vir jouself ‘n reputasie opbou deur die woorde wat jy uiter.  Dra jou woorde ‘n boodskap wat opbouend is, of maak jou woorde van jou ‘n negatiewe mens?  Ons word so maklik ingetrek deur negatiewe opmerkings of skinderpraatjies.  Volgende keer as jy jouself te midde van so ‘n situasie bevind, maak die spreker bewus daarvan dat jy nie met hom/haar saamstem nie en ook nie glo dat dit reg is om oor iemand te praat wat nie teenwoordig is nie.  Indien jy nie die moed het om dit te doen nie, bly stil of stap eenvoudig weg.  Die ou cliché “as jy niks goeds kan sê nie, bly liewer stil”  is ‘n Bybelse beginsel as jy na die teks hierbo kyk.  Die tong is inderdaad ‘n twee-snydende swaard, ‘n ‘wapen’ wat ontsettende skade kan aanrig.  Woorde wat geuiter is, kan jy nooit weer terugtrek nie.  Jy kan omverskoning vra, maar wat jy gesê het, het jy gesê. 


As mense kan ons swakhede teenoor God erken en Hom vra om ‘n wag voor ons mond te plaas en elke dag oefen om nie ingetrek te word nie.  

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...