Tuesday 22 April 2014

Bid gedurig

Thessalonicense 5 : 17 Bid gedurig. 

Wie hou nie daarvan om ‘n oproep te kry nie? Om te weet dat iemand aan jou dink… dat daar iemand is wat met jou wil praat… iemand wat belangstel in wat jy doen… of sommer net met jou te gesels. Veral vrouens sal ook weet hoe terapeuties dit is om ‘n vriendin te skakel en sommer net jou hart uit te praat… en dat sy luister.

God wil ook van jou ‘n ‘oproep’ ontvang. Hy sit en wag daar by die ‘telefoon’ en hoop dat jy sal skakel. Natuurlik weet God waarmee jy worstel en Hy weet waardeur jy gaan, maar dis nog steeds jy wat op jou knieë moet gaan en Hom aanroep. Die wonder is dat God altyd beskikbaar is en luister sonder om te kritiseer. Hy hoor selfs dit wat jy nie sê nie. En dis veral wanneer jy Hom vra om in te gryp dat Hy kan opstaan en moue oprol om dinge vir jou te laat gebeur.

Soms dink jy dalk dat jou probleem te eenvoudig is om met God te bespreek of jy het nou al soveel keer ervaar dat niks in jou lewe regloop nie dat jy God ook nie met jou probleem vertrou nie.

Lees dan Psalm 34 : 16 Die Here sorg vir die regverdiges en luister na hulle hulpgeroep. Dit maak nie saak hoe ontspoor jou lewe op die oomblik is nie… of jy dwelms gebruik… of jy moord gepleeg het… of jy gesteel het… of jy ‘n wit leuentjie vertel het… of jy ‘n verkeersreël oortree het nie…

Wanneer jy ware berou toon en God om vergifnis vra, sal Hy jou vergewe en jou hulpgeroep beantwoord. Jy sal verstom staan as jy aanskou waartoe God in staat is. Maak daardie oproep - bid gedurig.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...