Thursday 24 July 2014

Die gebreekte vlerk



Romeine 12:6  Ons het genadegawes wat van mekaar verskil volgens die genade wat God aan elkeen van ons gegee het

Jim Hullihan het ‘n ware verhaal, getiteld “Die gebreekte vlerk” geskryf.
Hy begin deur ‘n stelling te maak dat party mense eenvoudig gedoem is tot mislukking.  Dit is hoe party volwassenes na sogenaamde ‘probleem kinders’ kyk.  Hy haal ‘n gesegde aan:  “’n Voël met ‘n gebreekte vlerk sal nooit so hoog soos ander voëls kan vlieg nie.” 
En dan noem hy dat TJ Ware as kind so moes gevoel het, want hy was gebrandmerk as ‘n moeilikheidmaker in die dorp.  Onderwysers het opgesien teen ‘n klas waarin hy teenwoordig sou wees.  Hy was nie baie spraaksaam nie, het nooit vrae beantwoord nie, ander se aandag afgetrek en was gedurig in een of ander geveg betrokke.
Alhoewel hy byna elke standard gedruip het, het hulle hom eenvoudig deurgesit omdat die onderwyser nie kans gesien het om nog ‘n jaar met hom te sit nie.  TJ was besig om aan te beweeg, maar beslis nie op nie.
Jim het TJ die eerste keer op ‘n naweek leierskap wegbreek ontmoet.  Die hele skool was genooi om die program by te woon, waartydens hul sou leer hoe om meer betrokke te raak in hul gemeenskappe.  Daar was ongever 405 studente.  Daar aangekom, bring die leier Jim op hoogte.  “Ons het ‘n hele spektrum hier teenwoordig, van die hoofseun, tot TJ Ware, die seun met die langste misdaadrekord in die geskiedenis van die dorp.”
Met die begin van die verrigtinge, het TJ letterlik buite die sirkel van studente gestaan met ‘n houding van “voeter voort, julle beindruk my glad nie”.  Hy het nie deelgeneem aan die besprekings nie, maar met die interaktiewe speletjies, het hy stadig maar seker begin meedoen.
Op ‘n stadium moes hulle ‘n lys maak van positiewe en negatiewe dinge wat die afgelope jaar by die skool gebeur het.  TJ het baie duidelike opinies gehad en skielik het hy gevoel asof sy opinie saakmaak en dat daar na hom geluister word.  Hy het briljante idees gehad en die ander kinders het aan sy lippe gehang.
Teen die volgende dag was TJ 100% aktief betrokke by die sessies en teen die einde van die naweek het hy by die Hawelose Projek ingeskakel.  Hy het genoeg geweet van armoede, honger en hopeloosheid.  Die ander studente was baie beindruk met sy passievolle belangstelling en idees.  TJ is gekies as voorsitter van die span en dit het beteken dat die hoofseun sy instruksies van TJ moes neem.
Toe TJ Maandagoggend by die skool opdaag, heers daar pandemonium. ‘n Hele groep onderwysers het na die skoolhoof se kantoor opgeruk en protes aangeteken teen sy verkiesing.  Die eerste projek was ‘n landwye voedsel insamelingsprojek en die onderwysers kon nie glo dat die skoolhoof so ‘n prestige geleentheid, met ‘n drie-jaarlange plan van aksie in die onbeholpe hande van TJ kon laat nie. Volgens hulle was die projek gedoem tot mislukking.
Hulle het die skoolhoof aan sy misdaadrekord herinner en geskimp dat hy heelwaarskynlik die kos sou steel.  Die skoolhoof het kalm geluister en die doel van die ACE program aan hul verduidelik.  Dit is om iemand se natuurlike talent en passie te ontgin en dit dan in ‘n positiewe rigting te kanaliseer.  Sodoende vind positiewe verandering in die individu plaas.  Die onderwysers het dit duidelik gemaak dat hul nie saamstem nie en dat mislukking onvermydelik is, wat die skool se naam deur die modder sal sleep.
Onder leiding van TJ het ‘n groep student twee weke later, 2854 blikkies kos vir gemeenskap sentrums in net twee ure ingesamel.  Die kos het behoeftige families vir 75 dae gevoed.  Die prestasie was so buitengewoon dat die plaaslike koerant ‘n volle bladsy aan die artikel gewy het.  Die skool het die bladsy op ‘n kennisgewingbord vasgepen, met TJ se foto daarby.  Elke dag dat hy daar verbygestap het, het dit hom herinner dat hy oor die vermoë beskik om ‘n groep mense te motiveer en tot sukses te lei.
Geleidelik het TJ verander.  Hy was elke dag by die skool.  Hy het vrae geantwoord, toetse en eksamens met goeie punte geslaag en daar was geen vuisgevegte aangemeld nie.  Tussendeur het hy ‘n tweede projek gelei deur 300 komberse en 100 pare skoene in te samel.  Sy volgende blikkieskos insameling het 9000 blikkies opgelewe en het in 70% van die haweloses se behoeftes voorsien.  Om te sê die projek was uiters suksesvol onder TJ se leierskap, laat nie werklik reg geskied aan sy bydrae nie.  TJ het sy passie in die lewe ontdek en dit het sy hele menswees positief verander.
Hy was net ‘n voëltjie met ‘n gebreekte vlerk, wat weer moes aangroei.  Toe die vlerkie aangegroei het, het hy hoër as enige ander voëltjie gevlieg.  Hy het skool suksesvol voltooi,’n werk gekry en is vandag ‘n gerespekteerde lid van die gemeenskap, wat nog nooit opgehou het om ‘n verskil in ander se lewens te maak nie.
‘n Kind se negatiewe gedrag verbloem dikwels die potensiaal wat binne hom/haar opgesluit is.  Dit neem net een persoon om daardie potensiaal te ontsluit. Dalk is jy die een met die gebreekte vlerkie>

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...