Wednesday 23 July 2014

Verslap jou greep



Prediker 5:14  Self gaan hy kaal uit die wêreld uit soos hy daarin gekom het. Hy kan niks met hom saamneem vir al sy inspanning nie.
Soveel mense klou heeltyd vas aan alles wat hul het, vreesbevange dat hul dit sal verloor.  Elkeen dink as jy dit wat vir jou kosbaar is, van die wêreld weghou, dan kan niemand dit wegneem nie.  So bou ons hoë mure, ons installeer alarms, veiligheidshekke en diefwering.  Ons sorg dat ons met die regte mense meng en die wat nie ‘reg’ is nie, vermy.  Ons neem polisse uit en maak voorsiening vir die toekoms, probeer vir alles voorsiening maak en beskerm, maar min mense dink daaraan dat niks regtig joune is nie.  Ons het met leë hande die lewe ingekom, en so sal ons ook die lewe verlaat.
As jy onder die indruk is dat enige iets joune is, of dit nou geld, besittings, kinders, jou werk, jou eggenoot, wat ookal is… dis net geleen.  Alles, maar alles bly agter wanneer jy sterf.
Ons is so onseker van onsself… van ons toekoms… om alles te verloor en oor te begin… so ons ploeter voort in skuld… in ‘n ongelukkige verhouding… met ‘n motor wat probleme gee… met ‘n werk waar ons ongelukkig is… Ons sal eerder die omstandighede verduur as om dit wat ons het, te verloor.  Die blote gedagte om dit waaraan of waarvoor jy soveel tyd en energie spandeer het, te moet prysgee, verlam meeste mense met vrees.  Dalk is dit hoekom mense jare in ‘n verhouding bly waar hul mishandel word, of ongelukkig is. 
Die werklikheid is dat jy niks kan bereik of genoeg van bymekaar kan maak, wat jy nie in ‘n oogwenk kan verloor nie.  Daardie trappe wat jy so teen die suksesleer opklim… die hoër salaris, die beter motor, groter huis, meer meubels… grade… jou vrou… jou kinders… jou vriende… dit sal alles agterbly.
So hoekom so vasklou aan alles?  Laat gaan.  Al verloor jy alles, solank jou hart nog klop en daar bloed deur jou are vloei, is jy geseën met die lewe en kan jy oorbegin… weer en weer.  As jy dit eenkeer kon regkry, kan jy dit weer regkry.  En as jy dit nog nooit verloor het nie… verslap jou greep so ‘n bietjie daarop.  Moenie dat aardse skatte jou van die hiernamaals beroof nie.


No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...