Tuesday 29 July 2014

Een of ander tyd val die legkaartstukkies in plek



Psalm 79:5 Hoe lank sal dit nog aanhou, Here? Sal u toorn dan vir altyd duur, u woede soos 'n vuur bly brand?
Is jy vandag mismoedig oor iets waaraan jy al lank werk, maar jy kan dit net nie deurgevoer kry nie?  Jy probeer alles, maar sukses bly jou ontwyk.  Voel jy dalk asof jy die einde van jou kragte bereik het?  Dalk selfs of God nie ten gunste daarvan is nie?
Ferdinand de Lesseps is gebore in Versailles (1805) as die seun van ‘n Edelman.  Gedurende ‘n kort verblyf in Egipte, het hy op sketse van ‘n ingenieur, ene Le Pere, afgekom.  Die idee van ‘n kanaal wat die Rooi See met die Meditereense see verbind, het hom gefassineer.
Maar hierdie idee sou vir ‘n hele ruk latent bly in Ferdinand se onderbewussyn.  Kort daarna is hy in Rotterdam aangestel as konsul, daarna in Barcelona en uiteindelik as Franse Minister in Madrid. Na ‘n mislukte politieke loopbaan in Rome, het hy hom onttrek en semi afgetree, waartydens hy ‘n relatief stil lewe vir die volgende vyf jaar gelei het.  

In 1854 hoor hy egter dat sy ou vriend, Mohammed Said, aangestel is as vise-koning van Egipte.  Net daar besluit hy om sy vriend te nader en dieselfde dag nog word hy die reg gegun om ‘n universele maatskappy te stig, met hom as uitvoerende hoof, om die kanaal te begin uitgrawe en dit operasioneel te verbind met die twee seë… op voorwaarde dat die Sultan van Konstantinopel dit goedkeur.  Dit beteken nie alles het seepglad verloop nie.  Daar was teestand uit verskeie oorde, Mohammed Said is oorlede, werknemerswette het swaar handearbeid verbied en werkers moes uit Europa ingevoer word, ‘n cholera epidemie het uitgebreek… daar was genoeg rede om moed op te gee, maar Ferdinand het deurgedruk en op 15 Augustus het die waters van die Rooi en Meditereense see saamgevloei.  Op 17 Augustus is die kanaal amptelik geopen.

Soms loop ons lewe vreemde draaie alvorens ons, ons bestemming bereik.  Dit is nie soseer ‘n slegte idee nie, want ons het dalk meer ervaring nodig om gereed te wees vir die taak, of ons moet eers groei as mens.  Hoe dit ookal sy, moet nooit jou drome vergeet nie en moet veral nie jou vriende afskryf nie.  Jy weet nooit wanneer hulle vir jou deure kan oopmaak nie.  En dit beteken nie dat jy vriende moet wees met mense omdat jy hul wil gebruik nie.  Partykeer is ons net nie bewus waarmee God agter die skerms besig is nie.  Hy is besig met groot skuiwe in jou lewe en binnekort gaan die laaste legkaartstukkie in plek val en gaan jy verstom staan voor die pragtige prentjie.  God se planne is nie altyd logies nie, maar dit is altyd perfek.  Onthou, Ferdinand was alreeds vyf jaar afgetree toe God hom met hierdie projek geseën het.  Opwindende dinge gebeur nie net met ander mense nie, dit gebeur met hulle wat God blindelings vertrou.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...