Wednesday 30 July 2014

Die hartseer sal nie vir ewig duur nie



Klaagliedere 3:20 as ek daaroor nadink, draai my gedagtes vas.  

Jy ken daardie nagte van wakker lê en wroeg… van doodmoeg wakker word en wonder hoe jy uit die bed gaan kom, wat nog te sê jou dagtaak gaan verrig.  Jou gedagtes is in ‘n warboel en hoe meer jy probeer logies dink, hoe meer voel dit soos spinnerakke wat oral vaskleef.

Vincent van Gogh was seker een van die mees produktiewe kunstenaars van sy tyd.  Oor ‘n periode van 10 jaar het hy 900 skilderye en 1100 tekeninge voltooi.  Vandag is ‘n Van Gogh uiters gesog.  Sy Irisse het vir $53.9 miljoen verkoop en sy Portret van Docter Gachet vir $82.5 miljoen. 
Ongelukkig het hy nooit sy eie sukses beleef nie.  Hy was ‘n depressielyer en na vele jare van swaarkry, is hy in 1889 in ‘n psigiatriese hospitaal opgeneem.  Sy depressie het verder versleg en ‘n jaar later, op die ouderdom van 37, het hy homself geskiet, maar eers twee dae later gesterf.  Sy laaste woorde was:  “die hartseer sal verewig voortduur.”  Voorwaar iemand met ‘n gefolterde siel ten spyte van sy ongeëwenaarde talent.

Wie van ons kan hom oordeel?  As jy kyk hoe produktief hy as kunstenaar was, is dit byna asof hy die pyn uit sy siel wou skeur en op doek vaspen.  

Die samelewing het nie veel simpatie met depressielyers nie.  Hulle is nou nie juis aangename geselskap nie, wel meesal nie en daarom word hul eerder vermy.  Uit onkunde gebruik ons die woord ‘depressed’ so ligtelik, half spottenderwys.  

‘n Depressielyer is net so siek soos iemand met enige ander siekte.  Dis net dat daar ‘n stigma kleef aan iemand wat nie in staat is om hulself reg te ruk nie, min wetende wat dit van ‘n depressielyer neem om net ‘normaal’ te funksioneer.  Alles is ‘n stryd en alles is ‘n gesukkel.  Almal is teen jou en niks is regverdig nie.  Jou innerlike word vergiftig deur toksiese gedagtes.  

Dis ‘n eensame siekte – een wat jy meesal in jou kop stry en wat die wil om te lewe stukkie vir stukkie steel.  Depressie is nie ‘mood swings’ nie.  Dit is ook nie dat iemand ‘n introvert is of hulself van die samelewing onttrek of menssku is nie.  Dis soos om ‘n skaal te probeer balanseer, met lewe aan die een kant en dood aan die ander kant, terwyl dood ‘n massavoordeel het.

God gee ons egter hoop in EFESIËRS 4:23 Julle gees en gedagtes moet nuut word;
Depressie kan oorwin word, met die hulp van God, medikasie en die regte mediese deskundiges wat Hy oor jou pad bring.  Die hartseer sal nie vir ewig voortduur nie.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...