Tuesday 26 August 2014

Moenie bang wees nie



Spreuke 4 : 25-26  Jy sal nie hoef bang te wees dat teëspoed jou skielik sal tref nie.  Die rampe vir slegte mense bedoel sal nie oor jou kom nie. Die Here is jou beskermer.  Hy sal sorg dat jy nie in ‘n strik trap nie.
Hoeveel van ons gaan elke dag met vrees tegemoet?  Ons is bang dat ons in ‘n ongeluk sal wees op pad werk toe.  By die werk hoor ons kort-kort via die riemtelegram dat daar personeelvermindering gaan wees, en ons is bang dat ons een van die statistieke sal wees.  Terwyl ons by die werk is, is ons bang vir ons baas, wat fout vind met alles wat ons doen.  Ons voel verontreg en dat ons soos kinders behandel word.  Gedurende die dag is ons bang dat iets met ons kinders sal gebeur of dat daar by ons huise ingebreek sal word.  Op pad huis toe dink ons aan dit wat op ons by die huis wag… dalk is ons selfs bang om huis toe te gaan omdat omstandighede daar ook nie wenslik is nie.  Vanaand lê ons en rondrol, bang vir al die spoke wat ons rondjaag, vrese oor finansies, verhoudings, die ekonomie, ons land… en so hou dit aan.
Wanneer jy ‘n teksvers soos die een in Spreuke 4 lees, is dit asof jy die sweet van jou voorkop wil afvee en sê: “Dankie, Vader. Uiteindelik het ek rus vir my gemoed.  U verseker my dat U my beskermer is en daarom hoef ek niks te vrees nie.”
Wat jou vrees ook al is, neem hierdie woorde ter harte.  Hy sal sorg.  Jy hoef nie verder bang te wees nie, niks kan verkeerd gaan nie, niks sal jou oorkom nie.  Maak nie saak hoe onwaarskynlik dit lyk nie, jy is veilig.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...