Wednesday 24 September 2014

As die sprinkane toeslaan



Amos 4 : 9 (1953 Vertaling)… baie van julle tuine en julle wingerde en julle vyebome en julle olyfbome het die sprinkaan verslind — nogtans het julle jul tot My nie bekeer nie, spreek die HERE.
Wanneer jy na die wêreld kyk, besef jy dat dit allermins goed gaan.  In vele lande woed oorlug en onrus… ook in ons eie land is die pot besig om al meer te borrel, en baie wonder wanneer hy gaan oorkook. 
Politiek bestaan nie meer uit debatvoering nie, maar uit hofsake en dreunsang.  Respek is slegs in ‘n woordeboek te vinde.  Rondom ons gaan die omgewing en infrastruktuur agteruit en om alles te kroon, moet ons meer betaal vir minder.  As verbruiker is ons al skokbestand.  Ons glimlag en skud ons kop, maar die lewe moet voortgaan.
Die ‘sprinkane’ is besig om alles rondom ons te verslind… hoekom?  Volgens statistiek is die grootste deel van ons bevolking Christene, maar ek sien nie veel kenmerke van Christenskap in my mede-landsgenote se doen en late nie.  Dis amper ‘n oorlewingsstryd.  Almal trap op mekaar om hulself te bevoordeel.   Goeie dade of goeie maniere is skaars.
Ons kan nie wag dat ‘hulle’ verander nie.  Realiteit is dat verandering by elkeen van ons begin.  As jy papiere sien rondlê, tel dit op.  As jy iemand sien met ‘n behoefte, reik ‘n hand van vriendskap na hom/haar uit.   Bekering is nie ‘n eenmalige daad en net iets tussen jou en God nie, deel daarvan is om dit uit te leef in woord en daad.  As volk is dit tyd om ons daadwerklik te bekeer, voor die sprinkane alles verwoes het.  Gaan jy die eerste tree gee?
Besoek gerus die webblad: www.watsediewoord.co.za

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...