Isai het 8 seuns gehad
waarvan Dawid die jongste was en ook die een wat skape in die veld opgepas
het. Hy was dus jonk, klein van statuur
en nie belangrik in ander se oë. Sy broers
was regte manne, volgens menslike standaarde, want hulle het in Saul se oorlog
geveg.
God stuur Samuel na Isai om
‘n koning vir Israel te salf, maar Samuel sien niemand daar wat hy reken
koningskap waardig is nie. God praat
egter met Samuel: 1 Samuel 16 : 7 Moenie na sy
voorkoms of sy buitengewone lengte kyk nie, want ek het hom nie gekies
nie. Die Here kyk nie na dieselfde dinge
as die mens nie. Die mens kyk na die
uiterlike, maar die Here na die innerlike.
Ons weet dat Dawid slegs
klein in statuur was, maar nie klein wat moed aanbetref nie. Niemand het kans gesien vir Goliat, die reus,
wat die Israeliete 40 dae lank loop en verkleineer het nie, maar Dawid was reg
vir hom. 1 Samuel 17 : 32 Ek sal gaan en
teen hierdie Fillistyn veg.
Soms kom ek en jy ook reuse
in ons lewens tee... moeilike besluite wat ons moet neem, gesinsprobleme,
gesondheidsprobleme… Ons kan na ons
tekortkominge en swakhede kyk en dink dat ons dit nooit sal oorkom nie, of ons
kan soos God daarna kyk en besef dat as Hy jou vir ‘n taak gekies het, Hy jou
ook sal toerus en inspan om die onmoontlike te vermag. Vra jouself gerus af Wie in beheer van jou
lewe is?
Dalk is jy jonk en daar is ‘n pos waarvoor jy
wil aansoek doen, maar jy dink ander sal jou nooit ‘n kans gee nie. Moenie toelaat dat mense se siening van jou,
jou ontmoedig nie. Met God aan jou kant kan
jy enige reus tegemoet loop, al is jy die onwaarskynlike keuse.
Besoek gerus die webblad: www.watsediewoord.co.za
No comments:
Post a Comment