Andrew van der Bijl het in
1955 as jong Nederlandse sendeling na Pole gereis om ‘n Kommunistiese Jeugfees
by te woon. Sy tas was egter nie vol
klere nie, maar vol Bybels, want God het hom d.m.v. Openbaring 3 : 2 geroep: Word wakker en versterk die wat oorbly, wat
op die punt staan om te sterwe.
Daar agter die Ystergordyn
het hy gevind dat mense smag na ‘n kerk en ondersteuning en dat hulle dit in ‘n
Bybel gevind het.
Broer Andrew het ‘n
eenmansaak begin by name “God se
smokkelaar”. Vandag het dit gegroei
tot ‘n bediening by name “Geopende Deure”.
Dit is hoe God een
gehoorsame persoon gebruik om ‘n allemintige verskil in die wêreld van honger
siele te maak.
Hoeveel siele het jy al vir
God gewerf? Het jy al sy roepstem
gehoor? Nie almal hoef ‘n sendeling
agter die Ystergordyn te word nie. Ons
hoef net elke geleentheid te gebruik om ander d.m.v. ons lewe te wys wat
Christenskap is. Jy is ‘n wandelende
Bybel en heel moontlik die enigste Bybel wat iemand ooit gaan oopslaan. Getuig jou lewe dat jy ‘n kind van God is, of
dat jy die wêreld en sy plesiertjies aanhang?
Dis nie altyd maklik om van die pret en gewildheid weg te stap nie, maar
jy hoef ook nie soos ‘n skaap te volg nie.
No comments:
Post a Comment