Psalm 71 :3 Wees vir my 'n rots om na toe te vlug, waar ek
altyd die veiligheid mag vind wat U tot my redding beskik het, want U is my
rots en my vesting.
‘n Kollega het onlangs ‘n
miskraam gehad. Soveel mense verstaan
nie waardeur ‘n vrou gaan wanneeer sy ‘n miskraam het nie. So jy het ‘n miskraam gehad… ‘what’s the big deal?’ Dit was in elk geval nog nie ‘n baba nie.
Ek het dit egter baie
intens beleef toe ek self ‘n miskraam gehad het. Om ‘n miskraam te hê, maak nie saak hoe ver
die swangerskap was nie, is ‘n smart wat net diegene sal verstaan wat ook
daardeur is. Niks berei jou daarop voor
nie. Inteendeel, jy’s nog in die
ekstase- en voorbereidingsfase, en skielik is alles verby.
Na die miskraam moet jy
teater toe sodat hul jou baarmoeder kan ‘skraap’. Ek onthou hoe ek huilend wakker geword het na
die narkose en heeltyd gevra het waar die babatjie is. Dit was asof ek ‘n kind aan die dood
afgestaan het. Ek wou net iets hê om te
begrawe, maar daar was niks.
Die verpleegster het
verduidelik dat die fetus nie tydens die ‘skraap’ verwyder is nie; dit was alreeds weg. Toe ek steeds troosteloos is, het sy my ferm
gevra: “Hier oorkant lê ‘n vrou wat nou
net ‘n abnormale fetus op ses maande moes laat aborteer. Sou jy eerder daardie besluit later self wou
neem of God toelaat om dit te doen?” Net
daar het ek besef dat dit so bestem was… dat ek nie beskik oor lewe of dood
nie… dis God se afdeling. Daar het ‘n
rustigheid oor my gekom, asof Hy my berusting gegee het.
Indien dit ‘n hartseer of
verwyt is waarmee jy worstel, onthou dat God jou nooit verlaat nie, veral nie
gedurende hierdie hartseer seisoen in jou lewe nie. Dis juis dan dat Hy jou rots is.
Besoek gerus die webblad: www.watsediewoord.co.za
No comments:
Post a Comment