Psalm 130 : 4 Maar by U ís daar vergifnis
Keer op keer verstom God se
matelose liefde my. Al probeer ons hoe
hard, ons struikel daagliks. Ons het
soveel goeie voornemens, maar soms is daardie voornemens by die deur uit, nog
voor ons die huis verlaat. Jy sal weet
wat jou swakheid is.
Elke keer bid ons en vra
God om vergifnis, en elke keer vergeef Hy ons… weer en weer. Hy mag dalk teleurgestel wees in ons, maar Hy
verstoot ons nooit. Dit kan net ware
liefde wees; liefde wat ons so min teenoor ander betoon. Ons dra soms ‘n wrok vir dae oor kleinighede,
maar ons verwag dat God ons moet vergeef… en dit terwyl ons in die Onse Vader
geleer word om te bid: “vergeef ons, ons skulde, soos ons ook ons
skuldenaars vergewe.” Die woorde ‘behalwe
so en so’ is nêrens te sien nie.
Is daar iemand wat jy moet
vergewe? Hoekom weier jy om die persoon
te vergewe? Wat kan so erg wees dat jy
daaraan bly vasklou? Is dit nie dalk
omdat jy daarvan hou om die ‘slagoffer’ te wees nie? Leer by God.
Vergewe en vergeet, keer op keer.
Partykeer hoor ek iemand sê: “Ek
sal hom/haar vergewe, maar ek sal dit nooit vergeet nie.” Dis nie goed genoeg nie. Vergifnis beteken dit is uitgewis, vir
altyd. Jy grawe nie weer ou koeie uit
die sloot uit nie. Ontwikkel
geheueverlies daaroor.
Jy kan maar weet dat
iemand, iewers deur die dag, iets gaan sê waarvan jy nie hou nie of wat jou
seermaak, of te na kom. Elke keer het
jy opnuut ‘n keuse… jy kan dit teen daardie persoon hou, of jy kan dit laat
gaan. Die besluit is joune, maar vra
jouself af, hoe sou jy voel as God so genadeloos teenoor jou opgetree het, soos
wat jy optree teenoor diegene wat jou iewers in die verlede tenagekom het?
Besoek gerus die webblad: www.watsediewoord.co.za
No comments:
Post a Comment