Tuesday 30 September 2014

Rivierklippe



Hebreërs 13:4   Die huwelik moet deur almal eerbaar gehou word
Nie almal is so gelukkig om hul sielsgenoot en/of huweliksmaat te vind nie.  Dit beteken nie dat meeste nie aanhou soek nie.  Die mens is immers nie gemaak om alleen deur die lewe te gaan nie.
Indien jy uiteindelik daardie spesiale persoon ontmoet en julle voel dieselfde oor mekaar, is dit baie spesiaal.  Normaalweg lei dit dan tot ‘n huwelik en die ewige opportuniste onder ons glo die feëverhaal weergawe… dat die paartjie vir altyd daarna gelukkig saamleef.
Ongelukkig verg ‘n huwelik meer as net geluk… dit verg harde werk van beide kante… dit verg toegewydheid en vasbeslotenheid om jou huwelik te laat werk, ten spyte van die klein jakkalsies wat die wingerd probeer verniel.
Rivierklippe word deur water rondgerol, getol en sommer bloot hardhandig hanteer, maar uiteindelik maak dit van ‘n onafgewerkte stuk klip, ‘n pragtige, perfek geskaafde klip.
Huweliksmaats gaan ook deur ‘n soortgelyke proses.  Hedendaagse uitdagings is daar oorgenoeg van.  As jy die egskeidingstatistiek bekyk, trek jou keel toe… dis amper asof jou huwelik nie ‘n kans staan nie.   
‘n Huwelik kan egter werk.  Twee mense kan teen mekaar skaaf en later pragtig gevorm word om perfek bymekaar te pas.  Die proses hou seker nooit op nie, maar dit is baie bevredigend as jy besef die ergste is verby… dat julle sterker en mooier anderkant uitgekom het.
Laat God altyd die Middelaar in elke geskil wees… laat toe dat Hy julle skaaf en skuur totdat julle perfek pas.  God het die huwelik ingestel en dis ‘n eer as jy jou belofte voor die kansel gestand kan doen.
Besoek gerus die webblad: www.watsediewoord.co.za

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...