Jeremia 33:3 Roep My aan, Ek sal jou antwoord en jou
vertel van groot en onverstaanbare dinge waarvan jy nie weet nie.
Amanda Strydom het gesing
dat sy “lankal na ‘n plek in haar kop geëmigreer
het”. Baie van ons emigreer, meer gereeld
as wat ons besef, na daardie selfde plekkie.
Ons raak so vasgevang in ons omstandighede dat ons nie eens agterkom dat
ons met niemand praat nie. Die
omstandighede verswelg ons sodanig dat dit ons hele lewe in beslag neem, en ons
selfs verhoed om met God te praat. En
dis nie omdat ons nie met Hom daaroor wil gesels nie, ons is so besig in ons
kop dat ons heelwaarskynlik glo dat ons reeds die saak met Hom bespreek het.
Geen krisis is bo God se
vuurmaakplek nie. Al wat ons moet doen,
is om Hom aan te roep. Hy verseker ons
dat Hy sal antwoord. Die manier waarop
Hy uitkoms bring sal ons verstom, want God is in staat om die Kosmos te beweeg,
al is dit vir ons onverstaanbaar, is dit juis sy spesialiteit.
Moet jou nie verder
bekommer nie. Daardie slapelose nagte en
hoofpyne is nie goed vir jou gesondheid nie.
God staan en wag dat jy Hom aanroep.
Gun jouself die luukse van Sy Vaderliefde. As Hy bereid was om Sy Seun vir ons
verlossing te offer, glo ek dat Hy enige iets vir jou sal doen. Dit wat vandag vir jou onoorkombaar lyk, lag
jy môre oor.
No comments:
Post a Comment