Tuesday, 7 October 2014

Bid vir Suid-Afrika



Psalm 91 : 2 hy sê vir die Here: “U is my toevlug en my veilige vesting, my God op wie ek vertrou.”
Toe ons ‘n paar jaar gelede ons huis gekoop het, het ons spesifiek gesoek na ‘n huis met geen mure of hekke nie.  Wat my na die omgewing getrek het, was dat byna niemand mure of hekke gehad het nie.  Meeste huise het oop grasperke of tuine gehad.  Binne twee jaar het ons ‘n muur laat oprig, met elektriese hekke… en so ook meer as die helfte van die ander huise wat voorheen muurloos was.  Sekuriteit is beslis ‘n lonende bedryf deesdae.
Jare gelede was diefwering iets wat jy aangebring het om jou huis te verfraai.  Deesdae het ons diefwering, veiligheidshekke, alarms, elektriese heinings, hoë mure en hekke… en ons leef steeds in onrus.  Dis nie asof ons ewe skielik ‘n vlaag misdaad ervaar nie;  dis eerder dat ons soveel daarvan hoor en lees dat ons liewer voorsorg tref.
Waaroor ek veral wonder, is hoekom dit nodig is?  Hoekom moet derduisende rande op die beveiliging van eiendom bestee word terwyl die eintlike probleem by die misdadigers lê.  Wie gee enige iemand die reg om jou eiendom te betree, laat staan nog om jou aan te val of te vermoor?
Ons grondwet gee vir elkeen die reg tot lewe en vryheid.   Die regte beteken egter nie veel as ons onsself moet toesluit en obsessief raak oor veiligheid nie… en dit beteken nie dat ons God nie vertrou om ons te beskerm nie.
Vandag wil ek ‘n versoek tot jou rig. Elkeen van ons moed bid vir ons land… vir mense se harte om te verander… vir vrede en geregtigheid.  Emmigreer is nie die oplossing nie.  God is.  Hy kan ons weer in vrede met mekaar laat leef en respek vir mekaar laat ontwikkel.
Besoek gerus die webblad: www.watsediewoord.co.za

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...