Wednesday, 8 October 2014

‘n Ware Verhaal deur John Powell (‘n afgetrede professor by Loyola Universiteit in Chicago)



Johannes 15:10  As julle my opdragte uitvoer, sal julle in my liefde bly, net soos Ek die opdragte van my Vader uitvoer en in sy liefde bly.
Hy vertel:  “’n Paar jaar gelede het ‘n klompie studente my klaskamer ingekom vir hul eerste les in Teologie van Geloof.  Dit was die eerste dag dat ek Tommy ontmoet het.  Hy het sulke lang blonde hare gehad en vir my so onder sy kuif deur geloer.  Ek het goed geweet dat ‘n mens nie geken word aan wat op jou kop is nie, maar vir dit wat binne jou kop aangaan, maar ek reken ek was net nie voorbereid op sy voorkoms nie en onmiddellik het ek hom, in my gedagtes, geliasseer onder “V” vir vreemd… baie vreemd.
Later sou ek uitvind dat Tommy ‘n ateis was.  Hy het alles bevraagteken en oor inligting gegrinnik en nooit saamgestem dat daar ‘n God is wat die mens onvoorwaardelik liefhet nie. 
Die eerste kwartaal het ons in relatiewe vrede saamgeleef, alhoewel hy meeste van tyd vir my ‘n regte pyn in die nek was.
Aan die einde van die eerste semester, toe hy sy vraestel inhandig, kyk hy skepties na my en vra:  “Dink Prof dat ek God ooit sal vind?”
Ek het op skok terapie besluit en “nee” geantwoord, waarop hy geantwoord het:  “O, ek dog dis wat jy bemark.”  Met dit het hy omgedraai en in die rigting van die deur gestap. 
Hy was pas by die deur toe ek weer praat.  “Tommy, ek dink nie jy sal God ooit vind nie, maar ek is seker Hy gaan jou vind.”  Hy’t net vir ‘n oomblik na my gekyk en toe in stilte die klas verlaat.  Ek was so ‘n bietjie teleurgestel dat hy nie my slim antwoord gevang het nie. 
Tommy het later graad gevang en die wye wêreld ingevaar.  Twee jaar later hoor ek dat Tommy met kanker gediagnoseer is en dat die prognose nie goed is nie.  Voor ek hom egter kon besoek, het hy my kom sien.  Toe hy by my kantoor instap, was ek geskok.  Hy was rietskraal en van die lang hare was daar geen teken na die chemoterapie nie.  Sy oë het egter geglinster en hy het met selfvertroue gepraat.  Natuurlik was ek verbaas en opgewonde om hom weer te sien en ek het ook my blydskap teenoor hom uitgespreek en genoem dat ek gehoor het hy is siek.
“O ja, ek is ernstig siek,” het hy geantwoord.
“Gee jy om om daaroor te praat,” Tommy.
“Seker, wat wil jy weet?” Prof.
My volgende vraag was reguit.  “Hoe voel dit om vier-en-twintig en sterwend te wees?”
Hy glimlag en sê:  “Wel, dit kon erger gewees het.”  Ek wou natuurlik weet wat erger kon wees en hy’t geantwoord:  “Om vyftig te wees en geen waardes of drome te hê nie en te dink dat geld en drank die middelpunt van jou bestaan is,” het hy reguit geantwoord.  “Maar eintlik is ek hier oor iets heel anders… iets wat Prof eendag na ‘n eksamen vir my gesê het.  Onthou Prof nog die woorde?  ‘Hy sal jou vind?’ 
So hy het tog my woorde destyds gehoor, dink ek by myself.
“Ek het baie daaroor gedink, Prof, alhoewel ek nie juis na God gesoek het nie, maar toe dokters die gewas verwyder en die diagnose terugkom dat dit kwaadaardig is, het ek ernstig na God begin soek.  Toe die kanker na my organe versprei, het ek letterlik teen die hemel se toe deure gehamer met my vuiste.” 
Ek het hom in stilte en verstomming sit en aanstaar.  Is dit dieselfde Tommy wat ek geken het? 
“God het egter nooit gekom om my te kom vind nie.  Om die waarheid te sê, niks het gebeur nie.  Weet Prof hoe dit voel om alles in te sit, maar steeds nie suksesvol te wees nie.  Ek was mismoedig en moeg geprobeer om kontak met God te maak.  Toe besluit ek om boedel oor te gee.”
My oë het gerek, want dit was nie wat ek wou hoor nie.  “En nou, Tommy?”
Ek het eenvoudig besluit om nie meer te baklei teen ‘n baksteenmuur nie.  Vir al wat ek weet, bestaan God nie.  Toe besluit ek dat ek ook nie eens omgee nie… oor God, die Hiernamaals… niks.  Ek het besluit om die paar maande wat ek oorhet te geniet en dinge te doen wat ek nog altyd wou doen.  Prof het altyd gesê dat die hoogtepunt van hartseer is om deur die lewe te gaan sonder dat jy ware liefde ervaar, maar dat dit net so hartseer sou wees om deur die lewe te gaan en nie vir ander te vertel dat jy lief is vir hulle nie.”
“Tommy, ek het nooit gedink jy luister na enige iets wat ek gesê het nie,” laat ek van my hoor.
“Dis toe dat ek besluit om met die moeilikste persoon in my lewe te begin… my pa.  Hy’s ‘n harde en ongeduldige man en het nie tyd vir die tierlantyntjies van die lewe nie.  Ek het hom gaan besoek en hy was, soos altyd, geirriteerd toe ek hom pla terwyl hy koerant lees.”  ‘n Traan gly teen Tommy se wang af.  “Ek het hom gesê ek het iets belangriks op die hart en toe hy sy koerant laat sak, het ek gesê ek wil hê dat hy weet ek is baie lief vir hom en dat ek waardeer wat hy oor die jare vir my gedoen het.”  Tommy het ver by die venster uitgestaar en toe vir my direk in die oë gekyk.  “Daardie dag het twee dinge gebeur wat nog nooit ooit vantevore gebeur het nie, Prof.  My pa het gehuil en hy’t my styf vasgedruk.”  Hy moes eers weer sy emosies onder beheer kry, maar gaan toe voort:  “Dis die mees ‘amazing’ gevoel, Prof.”  Ons het lank gesels en soveel met mekaar gedeel.  Volgende het ek dieselfde met my ma en my boetie gedoen.  Hulle was makliker.  Ek was verstom om soveel liefde terug te ontvang en jammer dat ek dit nou eers ontdek het.  Die oomblik toe ek liefde betoon en oopmaak teenoor my mense, het hulle ook oopgemaak en ek het soveel liefde terug ontvang dat ek dit nou met almal wou doen wat ek ken.”
Ek kon sien dat Tommy ‘n openbaring gehad het en ek was so bly dat hy dit met my kom deel het, maar hy was nog lank nie klaar nie.
Eendag, toe ek weer kyk, is God daar.  Hy het nie na my toe gekom toe ek by Hom gepleit het om my ‘n kans te gee nie.  Ek wou hê God moes op my bevele reageer… drie weke, God dan wil ek U sien, maar dis nie hoe God werk nie.  Hy’t sy eie tyd, maar die belangrikste van alles is dat Hy my gevind het, net soos Prof gesê het.”
“Tommy, vir my raak jy ‘n baie teer punt aan.  God is nie ons besitting nie, ook nie ‘n probleem oplosser nie of net daar om ons te vertroos wanneer ons Hom nodig het nie, maar God is daar waar liefde seëvier.  Die dissipel Johannes het mos gesê dat God liefde is en dat diegene wat in liefde lewe in God leef en Hy in hulle.”  Hy’t sy kop geknik en ek het voortgegaan:   “Tommy, ek wil jou ‘n guns vra.  Wil jy nie my huidige Teologie klas kom toespreek nie?  As ek jou storie vir hulle vertel, sal dit nie halfpad soveel impak hê as wanneer jy dit self vertel nie.”
Tommy was egter nog nie gereed vir so ‘n stap nie en het gevra of hy daaroor kan dink.  Na ‘n paar dae het hy geskakel en gesê hy’s gereed en hy wil dit vir my en vir God doen.  Ons het op ‘n datum ooreengekom, maar helaas, Tommy het die afspraak nooit nagekom nie.  Hy’t ‘n belangriker afspraak gehad – met God. 
Tommy moes geweet het sy tyd is om, want hy’t my geskakel en gevra of ek die boodskap namens hom sou oordra, maar nie net aan die klas nie… aan die ganse mensdom.
Ek was nie hartseer nie, want ek het besef sy lewe het nie gestop nie, net van rigting verander.  Hy het die goot tree van geloof na visie gegee.  Hy het ‘n lewe mooier as die een gevind wat ons sien en ervaar.
“Tommy, ek het gedoen wat jy gevra het, na die beste van my vermoë.  Rus in vrede.”

Besoek gerus die webblad: www.watsediewoord.co.za

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...