Jeremia 3 : 22 – 23 deur die
liefde van die Here het ons nie vergaan nie; daar is geen einde aan sy
ontferming nie, dit is elke môre nuut. U trou is groot.
Gedurende ‘n tyd van beproewing kan dit vir jou voel asof
God van jou vergeet het. Jy bly roep dalk
ook om hulp en dink dat God Sy rug op jou gekeer het.
Wanneer jy sien hoe die geldjies minder raak en jy steeds
nie werk kry nie, trek jou keel toe. Jy
het slapelose nagte omdat die bank op die punt is om jou motor en huis terug te
neem – waarheen dan? Soms is dit asof die een ding na die ander breek… kar,
wasmasjien, geyser, ketel. Natuurlik
wonder jy dan of die duiwel los is, want wat kan nou nog verkeerd gaan?
Partykeer beland jy binne in ‘n woordestryd oor iets wat jy gesê
het en jy berou jou woorde, maar kan dit nie terugtrek nie… dalk het jy dit
nooit so bedoel nie. Miskien is jy so
pas uit die tronk vrygelaat en jy probeer die reguit pad stap, maar jou
‘verkeerde’ vriende wil jou nie met rus laat nie. Jy voer dalk ‘n stryd teen dwelms of drank en
het al soveel rehabilitasiesentrums sonder sukses besoek. Ellende op ellende… hoeveel kan een mens
hanteer?
Iewers langs die pad verloor jy jou hoop en vertroue op God
en kom jy op ‘n punt waar jy eerder wil boedel oorgee, want jy kan nie meer staande
bly teen die aanslae nie. Vandag wil ek
jou verseker dat God nie van jou vergeet het nie. Dit waardeur jy nou gaan is net tydelik. God sal nooit ophou om Hom oor jou te ontferm
nie. Soos klokslag breek die dag elke môre, en so is God se liefde ook
elke môre nuut. Elke nuwe dag is ‘n
herbegin… elke dag kan jy nuwe voornemens hê en God vra om jou te steun en krag
te gee om te oorwin. Jy kan vandag van
voor af begin… die keuse is joune. God
is gereed.
No comments:
Post a Comment