Wednesday, 19 November 2014

Stoot net



Romeine 1 : 16  Ek skaam my nie oor die evangelie nie, want dit is 'n krag van God tot redding van elkeen wat glo

 ‘n Man was vas aan die slaap in ‘n berghut, toe die vertrek skielik met helder lig gevul word.  God het in die middel van die lig verskyn en vir die man gesê Hy het werk vir hom.  Toe wys hy na ‘n groot rots voor die berghut.  God se instruksie was dat die man, in gehoorsaamheid, al sy kragte moet inspan om die rots te stoot.  Die man het dit gedoen, dag in en dag uit.  Vir jare aaneen het hy geswoeg, van sonop tot sononder, het hy met sy hele liggaam teen die koue, massiewe en onbeweeglike rots gebeur.

Saans het die man teruggekeer na die hut, sy hele lyf seer en styf, met ‘n gevoel van mislukking en die wete dat hy die hele dag niks uitgerig het nie.  Toe die vyand sien hoe die taak die man onderkry, het hy toegeslaan met negatiewe gedagtes:   “Jy stoot nou al hoe lank teen die rots en dit het nog nie eens beweeg nie.  Hoekom doen jy dit aan jouself?  Jy gaan dit in elk geval nooit regkry nie.”  Sodoende is die man oortuig dat die taak onmoontlik was en dat hy gefaal het.  Hierdie negatiewe gedagtes het hom nog meer mismoedig gestem.

“Hoekom breek ek myself hiermee?” het hy gedink.  “Ek gaan van nou af nie meer my tyd mors deur heeldag en aldag teen ‘n klip te staan en stoot nie.  Ek sal net so af en toe ‘n poging aanwend en dit behoort genoeg te wees.”  Dit was dan ook presies wat hy gedoen het, tot hy op ‘n dag besluit het om die kwessie ‘n saak van gebed te maak.  “Here, ek het lank en hard gewerk, ek het al my kragte ingespan om te doen wat U van my verwag het, maar na al die jare, het die rots nog nie eens ‘n millimeter beweeg nie.  Wat doen ek verkeerd?  Hoekom faal ek, Here?”

Die Here antwoord hom saggies:  “My kind, toe ek jou gevra het om my te gehoorsaam en jy dit gedoen het, het ek jou gevra om die rots te stoot met al jou krag.  Dit het jy gedoen.  Ek het nooit van jou verwag om dit te beweeg nie.  Jou taak was om te stoot.  En nou kom jy na my toe, noudat jy moeg gespartel is, en jy dink jy’t gefaal.  Is dit regtig so?  Kyk na jouself.  Jou arms is gespierd, jou rug is sterk en bruingebrand.  Jou hande het eelte en jou bene is sterk en stewig.  Deur hierdie inspanning het jy gegroei en jou uithouvermoë het jouself verstom.  En tog het jy nie die rots beweeg nie.  Jou opdrag was egter om gehoorsaam te wees en om jou geloof en vertroue te strek.  Dit alles het jy gedoen en daarom, my vriend, sal Ek die rots nou beweeg.”

Met tye, wanneer ons God hoor, gebruik ons ons eie intellek om te ontsyfer wat hy van ons verlang, terwyl Hy eintlik net van ons verwag om basiese gehoorsaamheid en geloof aan die dag te lê.  Jy is heeltemal daarop geregtig om geloof te beoefen wat berge versit, maar weet dat dit steeds God is wat die berge beweeg.

(Skrywer onbekend)

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...