Psalm 37 : 5 Laat jou lewe aan
die Here oor en vertrou op Hom; Hy sal sorg.
Hebreërs 13 : 5 Laat jou lewe
aan die Here oor en vertrou op Hom; Hy sal sorg.
As ons na ons eie rekord kyk, lyk dit nie goed nie. Wanneer ons iets
op eie houtjie aanpak, gaan dit maar sukkel-sukkel. En tog doen ons
dit keer op keer.
In teenstelling met hierdie benadering,verwag die Here dat ons ons
lewe aan Hom moet oorlaat. Die teks kom amper identies twee keer in
die Bybel voor. Dit gaan nie maklik wees as jy gewoond is om dinge
self te doen nie. Van kleins af ontwikkel ons mos 'n eie willetjie
en wil dinge self doen. Nou verwag God dat ons ons lewe aan Hom moet
oorlaat. Dis mos nou soos om langs 'n leerlingbestuurder te sit. Al
is daar geen pedale aan jou kant nie, trap jy vir 'n vale in stede
daarvan om die leerling te vertrou.
Onthou egter... Oor die eeue heen, het God nie 'n geskiedenis van
mislukking opgebou nie. Om die waarheid te sê, jou eie lewe getuig
sekerlik van vele wonderwerke, kere dat jy nie geweet het hoe jy
jouself uit daardie hoekie gaan uitwriemel nie, maar wanneer God jou
daar uitgekry het.
Wat my opval is dat Hy nie 'n blindelingse vertroue verwag nie, Hy
volg dit op met 'n belofte. Hy sal sorg. As jy vandag moeg
gespartel is, die einde van jou uithouvermoë bereik het, tot
siekwordens toe sat is, laat gaan. Gee jou toekoms oor in Sy hande.
Wat meer kan ek of jy voor vra as iemand om ons te versorg en teen
die aanslae van die lewe te beskerm.
No comments:
Post a Comment