Romeine 5 : 3-4 Dit is egter nie
al nie. Ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet: swaarkry
kweek volharding, en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid
van geloof kweek hoop;
Wie verheug hul nou in swaarkry, wonder jy? Kyk, die lewe is
nie vir sissies nie. Jy moet elke dag jou moue oprol en weerbaar
wees teen die aanslae van die lewe. Hoekom sou enigiemand hul dus
verheug in swaarkry?
Ek dink Jesus het dit volmaak reggekry. Toe Hy hier op aarde was,
het baie mense hom goed laat verstaan dat hulle nie glo Hy is die
Verlosser nie. Die Fariseërs het hom probeer vastrek met twisvrae.
Later het mense op Hom gespoeg en Hom gevloek. Hy's geslaan en
mishandel, maar nooit ooit het Hy hul optrede nageboots. Hy was die
volmaakte edelman, Seun van die Koning van die Heelal. Hy het Sy
vreugde daarin gevind dat Hy geweet het hoekom Hy hier is en nooit sy
lot bekla nie. Te midde van Sy swaarkry het Hy volhard en Sy geloof
en hoop het nooit gewankel nie.
'n Moeilike voorbeeld om na te volg, ne. Ek kan nie aan een enkele
ding dink wat God van ons verwag wat Sy Seun nie gedoen het nie.
Terwyl Hy in die bloedige son en stof van een dorp na 'n ander gestap
het, dalk honger en dors was, geen vaste blyplek gehad het nie, het
Hy nooit gekla nie. Hy het wel gebid tot die Vader en ek glo nie dit
was gebede deurtrek met klagtes nie.
Ons voorneme kan vandag in werking gestel word. Maak nie saak wat ek
vandag gaan beleef nie, ek sal nie toelaat dat dit my onderkry nie.
Ek sal God prys te midde van my stryd.
No comments:
Post a Comment