Psalm 84 : 11 Ek
staan liewer by die drumpel van die huis van my God as om te woon in huise
sonder God.
Sondag het ons dominee ‘n video gespeel
waar mense gedurende 'n onderhoud gevra is: “Wie is
Jesus?” Ek wil die vraag ook aan jou
stel: “Wie is Jesus?”
In die video het elke antwoord met ‘n onseker
“Uhm” begin. Antwoorde was uiteenlopend
en skokkend. Een antwoord het my so
geskok dat iemand net sowel ‘n emmer yskoue water oor my kon uitstort. “He’s the biggest con story ever!” Ernstig???
As jy nie weet nie… Hy is die Seun van God,
die Messias, die Verlosser wat vir jou en my sondes aan die kruis gesterf het
sodat ons vry kan wees. En mense weet
nie wie Hy is nie! Dit terwyl verskeie
webblaaie hom as een van die mees invloedryke mense van alle tye klassifiseer (o.a.
Time: The 100 Most Significant
Figures in History – Number 1). G’n wonder die wêreld is so onderstebo nie!
Ons kan nou hier in
skok bly sit, of ons kan besef dat daar nog baie werk vir jou en my is. Hierdie mense moet opgespoor word en die
Woord moet aan hul verkondig word sodat hul ook in ‘n huis kan woon met God
daarin. Dink asseblief waar jy betrokke
kan raak. Ons mag nie eendag voor Hom
staan met leë hande nie.
Jy hoef nie
eens jou lewe in gevaar te stel deur na ‘n land te gaan waar Christene vervolg
word nie… hulle is in ontwikkelde lande.
Partykeer hoef ons ook nie ver te soek nie, want soms moet ons by ons eie
huis begin.
No comments:
Post a Comment