Monday 2 March 2015

Al hierdie dinge

Matteus 6:33  Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.

Onlangs het ek die groot stap geneem om my bestaande voertuig in te ruil op ‘n ander voertuig.  Jy kan nou maar lag, maar ek is ‘n sentimentele mens en raak baie geheg aan my voertuig.  Eerstens omdat sy ‘n gawe uit God se hand is en tweedens omdat ons twee so baie tyd saam deurbring.  So om van my voertuig afstand te doen, is nie ‘n maklike besluit nie.  My voertuig is ook ‘n instrument om hierdie blog te bemark d.m.v. ‘n advertensie op my agterruit. 

Elke keer reken ek dit sal die voertuig wees waarmee ek vir die res van my lewe gaan ry wat beteken dat die voertuig uiters goed versorg word, en daarom kom so ‘n besluit nie maklik nie.  Logika moet darem ook inskop wanneer die geleentheid  hom voordoen om die voertuig te vervang, sonder dat dit ‘n arm of ‘n been gaan kos, want ons almal weet dat motor koop nie ‘n goeie belegging is nie. 

Dus word hierdie besluit in oorleg met God gemaak en soos wat Hy belowe in die teks hierbo, kan jy maar begin uitsien, want hy sal voorsien, solank as wat jy jou kant van die ooreenkoms nakom.
So kom ek op die punt wat die transaksie die groen lig kry.  Op pad huis toe pak twyfel my beet.  Wat as ek nie heeltemal binne God se wil optree nie… wat as dit meer my wil is as Sy wil?  Onmiddellik tree ek in gesprek met God:  “Asb Liewe Here, gee my ‘n teken.  As dit regtig binne u wil is, laat ek vandag iewers langs die pad dieselfde motor teëkom.” 

Nou moet ek byvoeg dat die voertuig wat ek beplan om te koop huidiglik uiters skaars is, met ‘n ellelange waglys.  Hier’s die getuienis.  Op die presiese oomblik dat ek “amen” sê ry daardie spesifieke voertuig, in presies dieselfde kleur wat ek bestel het, reg langs my.”  Praat van ‘n teken!  Ek was so stom geskok dat ek spontaan in ‘n lagbui uitgebars het.  “Ja, Here… nou is ek oortuig dis die regte besluit.” Daardie voertuig het voorwaar uit die lug geval.  Hy was sekondes tevore nêrens in die verkeer nie en my baan het vinniger gevloei wat gemaak het dat ek daardie voertuig ook nie weer daarna gesien het nie. 


Wat ‘n verstommende God dien ons nie.  Dit gaan nie oor wêreldsgoed of oor besittings nie.  Dit gaan oor ‘n God wat letterlik vir jou ENIGE IETS sal gee wat jy vra, selfs al is die wêreldsgoed.  Hy hou daarvan om ons te bederf.

Vandag is die herdenking van my geboortedag en wil ek graag ook getuig dat God my elke enkele dag van my lewe gedra, ondersteun en ook soms bederf het.  Ja, ek word ook soms getugtig, seker minder as wat ek verdien, maar dan weet ek ook om die suur saam met die sout te aanvaar, maak die lewe interessant. 

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...