Matteus 6:33 Nee, beywer
julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy
julle ook al hierdie dinge gee.
Onlangs het ek die groot stap geneem om my
bestaande voertuig in te ruil op ‘n ander voertuig. Jy kan nou maar lag, maar ek is ‘n
sentimentele mens en raak baie geheg aan my voertuig. Eerstens omdat sy ‘n gawe uit God se hand is
en tweedens omdat ons twee so baie tyd saam deurbring. So om van my voertuig
afstand te doen, is nie ‘n maklike besluit nie.
My voertuig is ook ‘n instrument om hierdie blog te bemark d.m.v. ‘n
advertensie op die agterruit.
Elke keer reken ek dit sal die voertuig wees
waarmee ek vir die res van my lewe gaan ry wat beteken dat die voertuig uiters
goed versorg word, en daarom kom so ‘n besluit nie maklik nie. Logika moet darem ook inskop wanneer die
geleentheid hom voordoen om die voertuig
te vervang, sonder dat dit ‘n arm of ‘n been gaan kos, want ons almal weet dat
motor koop nie ‘n goeie belegging is nie.
Dus word hierdie besluit in oorleg met God
gemaak en soos wat Hy belowe in die teks hierbo, kan jy maar begin uitsien,
want hy sal voorsien, solank as wat jy jou kant van die ooreenkoms nakom.
So kom ek op die punt wat die transaksie die
groen lig kry. Op pad huis toe pak
twyfel my beet. Wat as ek nie heeltemal
binne God se wil optree nie… wat as dit meer my wil is as Sy wil? Onmiddellik tree ek in gesprek met God: “Asb Liewe Here, gee my ‘n teken. As dit regtig binne U wil is, laat ek vandag
iewers langs die pad dieselfde motor teëkom.”
Nou moet ek byvoeg dat die voertuig huidiglik
uiters skaars is, met ‘n ellelange waglys.
Hier’s die getuienis. Op die presiese
oomblik dat ek “amen” sê ry daardie spesifieke voertuig, in presies dieselfde
kleur wat ek bestel het, reg langs my.”
Praat van ‘n teken. Ek was so
stom geskok dat ek spontaan in ‘n lagbui uitgebars het. “Ja, Here… U hou daarvan om 'n behoorlike teken te gee .” Daardie
voertuig het voorwaar uit die lug geval.
Hy was sekondes tevore nêrens in die verkeer nie en my baan het vinniger
gevloei wat gemaak het dat ek daardie voertuig ook nie weer daarna gesien het
nie.
Dankie dierbare Hemelse Vader vir elke seëning uit U hand. Ek verdien dit nie eens amper nie, maar ek aanvaar dit met grasie. My nuwe motor is pragtig en sy ry soos 'n droom. Ook Sy sal tot eer en verheerliking van U naam aangewend word.
No comments:
Post a Comment