Filippense 4 : 13 Ek is tot
alles in staat deur Hom wat my krag gee.
Lewensmoegheid bekruip en oorval ons wanneer
ons dit die minste verwag. Vandag werk
ma en pa in die meeste gevalle om die pot aan die kook te hou (en natuurlik die
skoolfonds te bekostig). Die kers word
aan beide kante gebrand. Enkellopendes
het dalk nog meer druk, want hul werk langer ure en daar is net een inkomste
vir dieselfde uitgawes. Dit is ook nie
net werksdruk nie, maar soveel ander druk.
Ons dryf onsself om te presteer om ons werk te behou en dan lei ons
verhoudings met die gevolg dat ons dan weer daar moet vure doodslaan. Dan probeer ons opmaak met geskenke of ‘n
wegbreek en ervaar weer finansiële druk of ons het twee of meer werke wat nog
meer druk op ons tyd plaas en so kan ons aangaan. Jy weet self wat alles druk op jou
plaas.
Meer mense besoek deesdae sielkundiges en
psigiaters as ooit tevore. Uitbranding
is nie meer ‘n vreemde term nie. Al meer
mense moet van medisinale hulpmiddels gebruik maak, al is dit net Rescue
Remedy. Soms wonder ons hoe ons oorleef.
Realiteit is dat die druk nie gaan minder raak
nie, heelwaarskynlik meer. Ja, jy kan
probeer afskaal tot op ‘n punt, maar dan moet jy ook bereid wees om die
konsekwensies te dra. Al waarheid is dat
God jou die krag sal gee om jou in staat te stel om kop bo water te hou.
Here, vandag besef ek dat ek nie op eie krag
kan voortstoom nie. Ek het U daadwerklik
nodig in my lewe.
No comments:
Post a Comment