Tuesday 10 March 2015

Laat môre in God se hande

Matteus 6:34  “Moet julle dus nie oor môre bekommer nie, want môre bring sy eie bekommernis. Elke dag bring genoeg moeilikheid van sy eie.”

Dit wil voorkom asof bekommernis ons nuwe nasionale sport is.   Min gesprekke draai om positiewe gebeurtenisse.  Toe die olieprys die hoogte in skiet, terwyl die rand wipplank gery het, het ons knaend oor die verhoging van die petrolprys gepraat en hoe dit ons affekteer.  Nou dat die olieprys gedaal het, hoor jy selde dat mense oor die positiewe kant van die saak praat.  Ons kry liewer ‘n ander onderwerp waaroor ons kan teem.  Die koerante en nuusbulletins gee ons genoeg ammunisie.  Min besef ons dat hierdie smartvraat-houding juis koerante se sirkulasiesyfers laat styg.  Slegte nuus verkoop!

Die Bybel leer ons egter anders.  Ons moet ons juis nie bekommer nie.  Wanneer mense so bekommernisse uitruil, hoor ek ‘n sugting na rus en vrede, maar tog word dit nie aangegryp nie.  Al waarop ons moet fokus, is vandag. 


Hier is as’t ware ‘n opdrag.  Moet jou nie oor môre bekommer nie.  Ja maar, die rand bly verswak, waar gaan dit eindig?  Dis God se probleem.  Het jy al gesien hoe gaan dit in die parlement?  Dis God se probleem.  Die land val uitmekaar uit… kyk maar na Eskom.  Dis God se probleem.  Ek en jy moet ons eenvoudig bepaal by vandag.  Laat môre in God se hande.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...