Tuesday 5 May 2015

50… 45… 40… 10…?

Genesis 18 : 24 Miskien is daar vyftig regverdiges in die stad. Sal U die plek werklik vernietig? Sal U dit nie spaar oor vyftig regverdiges daarin nie?

Die Here het so pas vir Abraham en Sara vertel dat hul ‘n kindjiegaan  hê op hul gevorderde leeftyd.  Daardie kindjie sou sorg dat Abraham se nageslag soos die sand van die see sou wees Gen 18 : 19 Ek het hom gekies dat hy sy kinders en sy nageslag kan beveel om op my pad te bly deur te doen wat goed en reg is, sodat Ek vir Abraham kan doen wat Ek hom beloof het.

Die Here is op pad na Sodom en Gomorra en as dit so erg is as wat Hy gehoor het, gaan Hy die stede vernietig.  Abraham onderhandel van vers 24 met die Here om die stede te red as daar net ‘n paar regverdiges is 50…45…40…10?  Die Here stem in om die stad nie te vernietig as Hy 10 regverdiges daar vind nie.  Stel jou voor… net 10 gelowiges in ‘n hele stad! 

Hoe sou omstandighede in ons tyd lyk?  Hoeveel ware gelowiges is daar in ons stad/dorp?  Is jy een van hulle?  God se geduld met die mensdom verstom my.  Ons is selfsugtig en om die lewe ten volle te geniet, is ons enigste prioriteit, of dit in sonde is of nie.  Vir party bestaan daar nie eens ‘n moontlikheid om hul lewe aan God te wy nie, terwyl ander reken hulle sal dit wel eendag doen… net nie nou nie. 

Die verhaal eindig tragies, want in Sodom en Gomorra vind die Here net een regverdige, naamlik Lot.  Hy vra Lot en sy gesin om die stad te verlaat en om nie om te kyk nie, maar soos wat so dikwels gebeur as ons God wel vind, kyk ons met verlange terug op die sondige tyd van ons lewe wat soveel meer pret was… en toe verander sy vrou in ‘n soutpilaar.

Wanneer jy God as jou Verlosser en Saligmaker aanneem, is die ou dinge verby.  Jy is ‘n nuwe mens en die lewe het nuwe betekenis.  Daar is ‘n vrede binne jou wat jy nie kan beskryf nie en jy weet net dat jy honger na meer en meer van Hom.


My wens vir jou is dat jy ook jou verlede sal agterlaat en nie daarna sal terugverlang nie.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...