Monday 4 May 2015

Versoeking

Jakobus 1 : 12  Gelukkig is die mens wat in versoeking standvastig bly. As hy die toets deurstaan het, sal hy as oorwinningsprys die lewe ontvang wat die Here belowe het aan dié wat Hom liefhet.

Daar gaan seker nie ‘n dag verby sonder dat ons op die een of ander manier versoek word nie.  Kyk nou maar net wat gebeur as jy besluit om met ‘n dieet te begin… ewe skielik verjaar iemand of daar is ‘n funksie wat jy moet bywoon… 

Soggens staan jy met ‘n lied in jou hart op en nadat jy Bybelstudie gedoen het en gereed gemaak het vir werk, val jy in die pad… net om ‘n selfsugtige motoris teë te kom wat jou ‘n kragwoord laat uiter…

Jou planne is agtermekaar om Sondagoggend kerk toe te gaan, maar Sondagoggend oorreed ‘n klein stemmetjie, met groot oortuiging jou, om agterstallige rus in te haal.

Boonop besef ons nie eens altyd dat ons versoek word nie.  Kollegas gesels saam en jy val in by die storie en kort voor lank kom jy agter julle skinder mos nou. 


God het goed geweet dat in ons swakheid ons nie alleen die mas sal opkom nie, daarom leer Hy ons in die Onse Vader om te bid:   en laat ons nie in versoeking kom nie…  Ons kan die toets deurstaan met God se hulp.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...