Thursday 7 May 2015

Moedersdag

Spreuke 23:22  Wees gehoorsaam aan jou vader en moeder, jy is hulle kind; en moet hulle nie verag as hulle oud geword het nie.

Moedersdag.  Wat beteken hierdie dag vir jou? 

Vir verskillende mense het hierdie dag verskillende betekenisse.  Daar is die pessimiste wat glo dat dit net ‘n geldmaak foefie is.  Dan is daar diegene wat nie meer ‘n moeder het nie, of ander wat eenvoudig nie tyd vir hul moeder het nie.

Menige moederhart sien waarskynlik uit om op hierdie dag darem so ‘n bietjie raakgesien te word. Ma’s is altyd die een wat regstaan met liefde, versorging, ondersteuning en opoffering en daarom is dit hopelik nie te veel gevra om te hoop dat jou kinders jou op hierdie dag sal onthou en verras nie.

Baie pa’s bederf nie net hul eie moeders nie, maar betoon ook liefde aan die vrou wat vir hul ‘n kindjie in die wêreld gebring het.  Indien jy nie een van daardie pa’s is nie… dis nog nie te laat nie.

Dan is daar diegene wie se moederskoot leeg is… wat al jare droom van die dag dat sy ook moedersdag sal vier.  Bly glo en vertrou dat daardie dag sal aanbreek.

Indien jy ‘n kind (van enige ouderdom) is, hoop ek dat dit die dag is waarop jy ‘n groot ophef van jou moeder sal maak.  Alhoewel elke dag moedersdag is, is dit tog ‘n dag spesiaal aan haar gewy.  Maak tyd en moeite om by haar te wees en sê dat jy vir haar lief is, nie net met blomme of ‘n geskenkie nie, maar ook met woorde.  

Elke kind behoort vandag se teks ter harte te neem. Alhoewel jy nie jou ouers kon kies nie, het God dit so bestem dat jy aan hul toevertrou is.
 

Geseënde Moedersdag!

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...