Thursday 14 May 2015

'n Leë nes

Spreuke 4:3  Ek was ook eenkeer 'n kind, my moeder se oogappel, haar enigste.

Elkeen van ons het seker al die woorde geuiter:  “Die tyd vlieg so vining verby.”  Die eendag is jy nog ‘n sorgelose kind, en ewe skielik is jy groot, met ‘n eie gesin.  Binne ‘n oogknip is die kinders uit die huis en sit jy met ‘n leë nes.

Niks berei ‘n mens werklik voor vir daardie dag nie.  Vir baie ouers draai hul lewe om hul kinders. As hul klein is, is dit versorging en later is dit sport en ander aktiwiteite. Menige ouer weet hoe dit voel om jou lewe rondom jou kind se sosiale lewe te reël.  Dan breek die storm en drang jare aan… jare wat jy nie noodwendig wil oorhê nie, maar wat jul tog ook nader aan mekaar bring.  Indien die kind verder studeer, het jul so ‘n bietjie meer tyd, maar een of ander tyd gaan die voëltjie die nes verlaat.  Dis altyd makliker as daar nog ‘n voëltjie in die nes oorbly om te versorg, maar kort voor lank breek die dag aan dat die laaste voëltjie die nes verlaat.

Vir die kind is dit seker ook ‘n dag vol onsekerheid, maar meeste kinders sien met groot vreugde uit na die dag dat hul die voorskootbande kan knip om uiteindelik hul eie baas te wees. 

Jy het jou kind grootgemaak na die beste van jou vermoë en daarom behoort jy te weet dat hul gereed is om hul eie potjie te krap.  Een of ander tyd moet jy laat gaan. Moenie jou kind laat skuldig voel nie.

Vir enkelouers is dit seker veel moeiliker, maar vir getroudes bied die leë nes net soveel uitdagings.  Indien jul ‘n goeie en sterk huwelik het, behoort jul nou die tyd saam te geniet, maar as jul weggegroei het van mekaar, kan jul nou redelik opgeskeep wees met mekaar se geselskap.  Dis hoekom dit belangrik is dat jou lewe nie net om jou kinders draai nie, maar dat jy en jou wederhelf werk aan ‘n verhouding waar jul mekaar se geselskap geniet.

Wanneer ‘n kind die huis verlaat, is dit nie die einde van die wêreld nie.  Skep ‘n veilige en liefdevolle hawe waarheen jou kind uitsien om terug te keer, veral wanneer die storms van die lewe hul tref.


Iemand het eendag gesê: “Be kind to your children. They might just have to be the ones who look after you when you are old.”

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...