Sunday 17 May 2015

Omgord my met krag

Psalm  18:40  U het my met krag omgord vir die stryd, U het my teëstanders voor my laat swig.

Dierbare Heer en Hemelse Vader, U ken my beter as enige iemand anders.  U het my gemaak. My persoonlikheid en my geaardheid is deel van dit wie U beplan het ek sou wees.  Elke gelaatstrek het U met groot sorg gevorm. 

Daarom Liewe Heer, het ek die vrymoedigheid om vandag na U te kom.  U is die enigste een wat weet van die onrustigheid binne my.  Ek glo U verstaan dat ek nie ondankbaar is vir al die seëninge in my lewe nie; dat ek soveel rede tot dankbaarheid het.  Maar Here ek kan die onrus nie meer onderdruk nie.  Ek wil uit my omstandighede ontsnap.  Dit voel asof ek stukkie vir stukkie doodgaan binne.  Elke dag moet ek al harder met myself praat om te onthou hoe geseënd ek is.  Party dae raas ek met myself en dwing ek myself om te onthou dat daar andere is wat U hulp veel nodiger het as ek.  Hoe hard ek ookal probeer, Hemelse Vader, ek kan myself nie tot rus bring nie.

U weet dat ek besluite moet neem wat my toekoms gaan raak.  Here, ek is so bang ek maak die verkeerde besluite.  Wys my asseblief wat U wil vir my lewe is, Here.  Indien die afrit wat ek wil neem die verkeerde een is, Here, blokkeer dit… stil my gemoed…

Indien dit egter die regte besluit is, al is dit hoe verrykend, Here moet my asseblief nie die pad alleen laat stap nie.  Ek kan nie hierdie nuwe fase op my eie betree nie. 

Dankie Liewe Here dat U ook na my luister, al is my probleem nie naastenby so ernstig soos ander s’n nie.  U genade en ondersteuning beteken die wêreld vir my.


Baie dankie vir die krag waarmee U my omgord en dat ek geen teëstander hoef te vrees nie.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...