Wednesday 27 May 2015

Niemand mag verlore gaan nie

2 Petrus 3 : 9  Die Here stel nie die vervulling van Sy belofte uit nie, al dink party mense so.  Nee, Hy is geduldig met julle, omdat Hy nie wil hê dat iemand verlore gaan nie.  Hy wil hê dat almal hulle moet bekeer.

Ons honde het hierdie ewige wedstryd met ons.  As ons net die een hek oopmaak sonder dat die ander een toe is, glip hul uit en dan is hul letterlik pad af.  Jy kan maar roep en soebat, maar hulle hou hul doof.  Meeste van tyd gee ek dan op en laat hoor: “Ek gaan nie langer met hulle sukkel nie, hulle kan nou maar buite bly.”

Stel jou voor dat God dieselfde houding teenoor ons openbaar.  Hy is so verskriklik geduldig met ons.  Ons sondig, luister nie na Sy roepstem nie, slaan ons eie koers in, maak soos ons wil… en God bly geduldig. 

Miskien is jy ook hardhorend.  Jy het die boodskap al op verskeie maniere gehoor en jy weet dat jy op ‘n punt moet kom wat jy jou hart vir Hom gee, maar jy bly uitstel.  Dalk is daar nie eens ‘n spesifieke rede hiervoor nie.  Jy voel net dat jy nog nie gereed is nie.

Ons kan almal dankbaar wees dat God soveel vir ons omgee en dat Hy nie moed opgee nie.  Die teksgedeelte verwys daarna dat Hy wil hê dat ALMAL hul moet bekeer.


Dit beteken natuurlik dat daar vir diegene wat Hom reeds ken, genoegsame geleentheid is om ander na Hom te lei.  Ons kan nie aandadig wees daaraan dat EEN siel verlore gaan nie.  God verwag van ons om siele te red.  As ek na die mensdom rondom my kyk, is daar hope wat dit nie gaan maak nie, maar dit is juis waar ek en jy inkom.  Ons moet uitspring en daardie siele bearbei sodat God Sy mikpunt kan bereik… om ALMAL te red.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...