Wednesday 27 May 2015

Getuienis

Vanoggend loop my hart oor van vreugde en dankbaarheid; tot so 'n mate dat ek dit nie vir myself kan hou nie.  Die oorsprong van my vreugde lê in ‘n wonderbaarlike getuienis van God se getrouheid, grootsheid en almag.

Op 15 Julie 2013 het ek getuig oor die geleentheid wat ek van God ontvang het om weer agter die mikrofoon in te skuif as omroeper by Radio Disa.  Ek het ook getuig oor ons vennootskap met Radio Witzenberg, maar ongelukkig het dit nie heeltemal uitgewerk nie.  Radio Disa saai dus meesal die afgelope 2 jaar via die internet uit.  Ons het luisteraars wat van meer as ‘n 100 lande inskakel en ‘n groot gros luisteraars regoor Suid-Afrika.  Ten spyte hiervan was ons mikpunt nog altyd om ‘n FM frekwensie te bekom, maar Icasa het ons verskeie kere verseker dat daar geen frekwensies beskikbaar is nie. 
Op hierdie punt moet ek noem dat Doktor Gerhard Kotze hierdie radiostasie begin het in direkte opdrag van God d.m.v. ‘n boodskap uit die Bybel.  Wanneer iemand gehoorsaam is, en glo ten spyte van terugslae, en jy elke keer sien hoe God die struikelblokke uit die pad vee, besef jy dat hierdie eenvoudige gehoorsaamheid groter gevolge het.  Jy kan nie misluk as God voor jou uitstap nie.

Intussen het die omroepers by Radio Disa getrou ons tydgleuwe gebruik om die boodskap onbeskaamd te verkondig.  Internet radiostasies mag nie adverteer nie, so daar is geen vergoeding nie, maar dit was nie hoekom ons uitgesaai het nie.  Persoonlik doen ek dit vir God.  Dit gaan nie om erkenning of roem nie.  En natuurlik is ‘n mikrofoon ‘n magtige wapen as jy dit teen die duiwel inspan.  

Na 2 jaar van aanhoudende klop aan deure en ontelbare gebede, het Icasa uiteindelik ons lisensie uitgereik – op Doktor Gerhard Kotze se verjaarsdag! (27 Mei 2015)  Sy kerk, Amazing Grace Ministries, vier hierdie week ook hul negende bestaansjaar en daarom het hy al ons omroepers gisteraand genooi om die vieringe by te woon.  Min het ons geweet van die motief agter die uitnodiging. 

Woorde bestaan nie om vir jou te probeer beskryf van die vreugdevolle uitbarsting in die kerk die oomblik toe ‘n beeld van die amptelike,  goedgekeurde, getekende lisensie op die monitor verskyn nie.  Trane het oor my wange geloop.  Dit was ‘n visiuele beeld van God se almag en getrouheid.  Omroepers het mekaar omhels… die kerkgangers het spontaan gejuig en hande geklap.  Die vreugdevure was onblusbaar. 
Met trots, en erkenning aan God Almagtig, kan ek jou inlig dat ons frekwensie 95.9.  Sodra Icasa die nodige toerusting geinstalleer het en al die konneksies daar is, sal ons ‘op die lug’ gaan en dan kan jy na ons luister op jou radio.  Alhoewel ons baie internet luisteraars het, is ons deeglik bewus daarvan dat nie almal toegang tot die internet het of oor ‘n selfoon of rekenaar na ‘n radiostasie kan of wil luister nie. 

Net om jou gerus te stel… ons is nie in kompetisie met enige ander Christen Radiostasie nie.  Ons vergroot slegs God se grondgebied en reikvermoë.  My dagstukkie vir vandag, getiteld Niemand mag verlore gaan nie, sluit so mooi hierby aan, want daar is derduisende siele wat nog gered moet word.  Hierdie ongeredde siele kom nie kerk toe nie, so as iemand hul nie op ‘n ander manier bereik nie, sal hul verlore gaan.  Radio is maar net een medium om in te span.

Ek hoop dat hierdie getuienis jou vandag laat besef waartoe God in staat is en dat ek kan onomwonde kan getuig dat absoluut NIKS by Hom onmoontlik is nie.  Wanneer ek sê ’alle eer aan God’, dan bedoel ek dit met my hele hart.  God hoef homself nie te bewys nie, maar keer op keer verstom en verbaas Hy ons en net wanneer jy moed opgee of dink jou gebede werp nie vrugte af nie, hou Hy ‘n vuurwerkvertoning wat jou in verwondering laat. 

Hemelse Vader, vandag wil ek (saam met elke leser van hierdie boodskap) vir U baie, baie, baie dankie te sê.  Ons mag maar erken dat ons soms mismoedig geword het wanneer alles verkeerd geloop het, maar dat ons nooit hoop verloor het nie omdat ons weet dat U Almagtig is.

John 5:14-15  “This is the assurance we have in approaching God:  that if we ask anything according to his will, he hears us.  And if we know that he hears us--whatever we ask--we know that we have what we asked of him…”


Dankie dat ek hierdie oomblik met jou kon deel.  Ek hoop dat jy saam met my bly is en God ook vir hierdie wonderwerk sal loof en prys.  Ons webblad sal deur die loop van die dag opgedateer word met foto’s wat gisteraand geneem is.  www.radiodisa.com  

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...