Sunday 28 June 2015

Omstandighede


Deuteronomium 30:3  sal die Here jou God jou omstandighede verander

Onlangs vra iemand my om vir hulle te bid.  Ek weet dat die persoon eens op ‘n tyd naby aan God was, maar dat hy afgedwaal het.  Die besef dat God wondere kan vermag en omstandighede kan verander, noop die persoon om my te vra om vir hom te bid.  Hy voel hy kan God nie self nader nie.  
  
Miskien sien jy iets van jouself hierin.  Jy sal jouself nie as ‘n Christen uitgee nie.  Jy weet wie Hy is en daar was selfs ‘n tyd toe jy Hom beter geken het, maar jy’t afgedwaal en nou voel jy asof jy geen reg het om God as’t ware vir ‘n guns te vra nie.  Jy vra ander dalk ook om vir jou te bid omdat jy nie self weet hoe of waar om te begin bid nie.

Wat gaan gebeur as God daardie persoon se gebed vir jou beantwoord?  Gaan jy besef dat Hy steeds daar is?  Gaan jy Hom bedank? Gaan jy Hom weer ‘n kans gee en terugkeer na Hom of gebruik jy God net as jy Hom nodig het.

God wil jou vandag uitnooi en verseker dat jy altyd by Hom welkom is.  Jy hoef nie deur middel van iemand anders met Hom te kommunikeer nie.  As jy voel dat jou geloof eenvoudig nie sterk genoeg is nie, maar dat die hoop daar is, dan is jy inderdaad besig om God te vertrou.  Jy sou nie daardie persoon gevra het om vir jou te bid as jy nie geweet het waar jou hulp vandaan kom nie.

Kniel voor Hom en stort net jou hart teenoor Hom uit.  Hy is gereed om jou in Sy arms toe te vou en terug te verwelkom.

Ek bid vir jou.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...