Thursday 25 June 2015

Vergifnis


1 Johannes 1 : 9  Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid.

Wanneer iemand ons tenakom, hou ons dit dikwels vir ‘n baie lang tyd teen hulle.  Ek het al gehoor dat iemand sê:  “Ek sal vergewe, maar vergeet… nooit!”  As mense hou ons boek van die kwaad.  Kyk maar Kerstyd as mense geskenke oopmaak.  Indien die geskenk nie aan hul verwagtinge voldoen nie, is dit amper asof jy kan hoor hoe hulle dink.  “Volgende jaar sal ek seker maak ek koop nie weer sulke duur geskenke nie.”

God vergewe ons sondes en laat ons male sonder tal op ‘n skoon bladsy begin.  Ja, party van ons vorder nie verder as ‘n paar reëls op daardie nuwe blaadjie voor ons alweer struikel en om vergifnis moet vra nie, maar God verstaan ons.  Hy kan immers sien as ons probeer en Hy weet watter versoekings ons soms teen moet stry.

Die wonder is dat Hy nie net ons sondes vergewe nie, maar dat Hy ons van ALLE ongeregtigheid reinig. Ons is skoongewas deur Sy bloed.

Miskien martel jy jouself deur te dink dat jou sondes onvergeefbaar is, dat selfs God jou nie sal vergeef nie, want jy kan jouself nie vergeef nie.  Weet vandag een ding verseker, daar is nie ‘n sonde wat te groot is vir God om te vergeef nie.  By hom is daar nie groot en klein sondetjies nie, net Vaderliefde wat jou onvoorwaardelik vergeef indien jy jou sondes voor Hom belei en erken dat jy ware berou het.   God ken jou hart.  Hou op om jouself so te pynig.  Indien jy nie woorde het nie, sê dit vir Hom en weet dan dat die Gees namens jou sal intree.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...