Sunday 12 July 2015

Dankie Here!

Lukas 15:7 Ek sê vir julle: Net so sal daar ook in die hemel blydskap wees oor een sondaar wat hom bekeer, eerder as oor nege en negentig mense wat reg doen en nie bekering nodig het nie.”

Ten spyte daarvan dat ek die Here met my hele hart dien, kan ek nie dieselfde van elke lid van my gesin sê nie.  So worstel ek met die vraag:  “Hoe kan ek eendag voor God verskyn sonder hulle wat die naaste aan my is?”  

My oudste seun was twaalf jaar gelede laas in die kerk.  Alhoewel hy in ‘n Christelike huis grootgeword het, Sondagskool toe is, aangeneem en voorgestel is, het Hy geen verhouding met God nie en daarom geen behoefte om kerk toe te gaan.  Daar is soveel rede vir my om trots op hom te wees, maar hy weier om enigsins na my te luister as ek die aangeleentheid aanroer.  Mettertyd het ek besef die onderwerp is taboe, maar dit het nie beteken dat ek opgee nie.  Gebed sou my geheime wapen teen satan word.

Baie dinge het die afgelope paar maande in sy lewe gebeur en hy sou baie keer bel en net vra dat ek vir hom bid.  Min het ek geweet dat God besig is met my kind.  Onlangs kry ek ‘n WhatsApp boodskap van hom:  “Ma was al die tyd reg… die Here version… en eer jou vader en jou moeder…”  Ons voer ‘n lang, diep gesprek en ek moet myself inhou om nie ‘n ‘yes’ teken te maak nie.  Ek is bang opgewonde met die besef dat ek besig is om ‘n ommekeer te aanskou.  

Gister bel ek hom en byna die eerste woorde is:  “Ons gaan môre kerk toe.”  Dis byna asof ek nie registreer nie.  Het ek reg gehoor?  Here, ek bid so lank...  Versigtig trap… ek mag niks sê wat hom sal afskrik nie. 

Vir die eerste keer wonder ek of predikers weet watter groot verantwoordelikheid op hulle rus?  ‘n Honger siel gaan vandag in ‘n kerk sit en hoop om ‘n boodskap te ontvang.  Ek bid vir elkeen wat die boodskap verkondig… dat hul elke moontlike geleentheid sal gebruik om ‘n siel te red… om iemand wat bang terugkeer na die huis van die Here te laat tuis voel.

Dankie, dankie, dankie Here.  Ek weet dit is maar net die begin, maar hoe wonderbaarlik was U ingryping in my kind se lewe nie.  Dankie dat U vandag ‘n moederhart laat juig.  Saam met die engele jubel ek oor een siel wat sy eerste treetjie tot bekering gee.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...