Monday 13 July 2015

Wag en kyk!

Eksodus 14 : 13  Maar Moses het die volk geantwoord:  ”Moenie bang wees nie.  Staan vas, kyk hoe die Here julle vandag red.
Farao het uiteindelik die volk laat gaan.  God het vir hulle die pad aangewys met ‘n hoë wolkstapel wat voor hulle uitgegaan het.  Gedurende die nag het ‘n wolk waarin vuur was vir hulle lig gegee.  Maar God het ook besluit om die Farao weer hardkoppig te maak en hulle agterna te sit.  Die Farao het sy leër opgekommandeer en hulle agternagesit. 
Jy kan jou die Israeliete se verbasing voorstel toe hulle sien die Egiptenare is op hulle.  Niemand wat vryheid gesmaak het, wil weer gevang word nie.  Gedagtes van dit wat hul voorheen deurgemaak het, moes hul kasty.  Ek kan my voorstel hoe vasgekeer hul moes voel, dalk selfs moedeloos.  Ons moes geweet het dit is te goed om waar te wees!  Waar is God nou?
Wanneer mens in ‘n hoek is, is dit natuurlik om iets of iemand te soek om te blameer.  Iemand moet verantwoordelik wees vir dit waardeur jy nou gaan.  Die ironie van die verlede is dat ons so gou die swaarkry vergeet en net die mooi onthou en romantiseer.  Dis presies wat die volk gedoen het.  Hulle het Moses blameer en gesê dat hy hulle in Egipte moes gelos het – nou gaan hulle hier in die woestyn omkom!
Moses se geloof en vertroue in God was egter op ‘n ander vlak as die volk s’n.  Hy antwoord hulle met die teks hierbo en eindig met die woorde:  “Wag en kyk!  Die Here sal in julle plek veg.” 
Wie weet, jy kan dalk ook vandag jouself met die Israeliete en hul situasie vereenselwig.  Skuldeisers is op jou spoor en jy verlang terug na die tye toe jy nog arm was, maar minder probleme gehad het. 

Wag vandag op die Here.  Jy mag jouself tans in die woestyn van die lewe bevind waar alles kaal en hopeloos lyk.  Dit is die perfekte plek vir ‘n wonderwerk.  God het ‘n plan en jy hoef net in stilte op Hom te vertrou.  Wag en kyk!

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...