Wednesday 1 July 2015

Die onwaarskynlike


1 Samuel 16:10  Nadat Isai sewe van sy seuns voor Samuel laat verbygaan het, sê Samuel vir Isai: “Die Here het nie een van hulle gekies nie.”

Sondagoggend het ek na ‘n interessante boodskap oor die radio geluister.  

Saul was steeds koning, maar God het hom verwerp (1 Samuel 16 : 1) en vir Samuel opdrag gegee om die nuwe koning aan te wys.  Samuel het nie verstaan hoekom hy dit moet doen terwyl Saul koning is nie, maar God por hom aan en stel voor dat hy ‘vers neem om te offer.  

Daar gekom het hy vir Isai gevra om sy seuns te roep.  Met elkeen wat verskyn het, het Samuel die boodskap gekry dat dit nie hy is nie.  So het al sewe seuns verskyn en steeds wag hy vir die regte een.  Hy vra toe vir Isai of hy nog seuns het waarop Isai antwoord dat daar net die jongste oorbly wat skape oppas.

Soos ons weet het sekere getalle betekenis in die Bybel.  Een is vir ‘n eersgeborene wat die mees waarskynlike is om as koning aangewys te word.  Drie verwys na die Heilige Gees en vier na God wat regeer uit al vier windrigtings. Sewe is ook betekenisvol.  God kies die mees onwaarskynlike een, nie die eersgeborene, of die derde, vierde of sewende nie, maar die agste… die jongste… die kleinste… die een wat ‘n nederige skaapwagter is… wat waarskynlik nie te aangenaam ruik na dae in die veld nie.  

Die mens wik, maar God beskik, was die boodskap. Die mens probeer gewoonlik om sin te maak uit dinge of dit uit te redeneer, dus maak hierdie optrede van God nie sin nie.  Ons soek ‘n patroon of ‘n verklaring.  Soos Samuel bevraagteken ons dit en erken dat ons nie verstaan nie.  

God het oor die eeue bewys dat Hy nie soos mense dink of optree nie.  Wanneer ons dink alles is oor, het God nog ‘n uitkoms…  Wanneer ons mismoedig en uitsigloos is, weet God dat uitkoms binne ons bereik is. Indien ons dink ons weet nie meer watter kant toe nie, is ons waarskynlik reeds daar.  Ons maak onsself moeg om God te probeer verstaan.  Dit is nie nodig om Hom te verstaan nie.  God gebruik die mees onwaarskynlike kandidaat.  Net hy weet hoekom.  Al wat ons hoef te weet, is dat dit absoluut die regte persoon is, as God hom of haar gekies het.  Net so hoef ons ook nie te wonder oor ‘n uitkoms uit ons situasie nie.  God sal daarvoor sorg.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...