Thursday 2 July 2015

Nederigheid

Psalm 131 : 1  Selfverheffing en hoogmoed is daar nie by my nie, Here.

Nederigheid is ‘n kuns.  As jy byvoorbeeld trots is daarop dat jy nederig is, is jy inderwaarheid nie nederig nie.  Nederigheid is dus nie iets waarmee jy spog nie.  Dit is bloot ‘n bestandeel in jou samestelling.
Om nederig te wees, beteken nie dat jy omverskoning moet vra dat jy leef nie.  Dit beteken bloot dat jy jouself nie beter as enige iemand anders ag nie.  Jy gun ander ‘n plekkie in die son en is bly wanneer hul sukses bereik. 

Soms beteken dit dat jy iemand moet gelukwens wat ten koste van jou gewen het, om welke rede ookal, maar jy doen dit omdat dit niks van jou neem nie.

Hoe meer jy terugstaan sodat ander kan uitstaan, hoe groter word jou lewensruimte en is daar meer plek vir God.  Hy kan jou nie bereik as jy omgewe is van eiewaan nie. 

In ‘n wêreld wat behep is met presteerders, is dit amper beroep-selfmoord.  Jy is nie veronderstel om ander ‘n geleentheid te gee om jou verby te gaan nie.  Jy moet wen… ten alle koste.  Hoe gouer, hoe beter, hoe meer hoe beter, hoe groter hoe beter…  Diegene wat in die slag bly… wel, hulle is mislukkings en verdien om vertrap te word.


Ons het van die lewe ‘n kompetisie gemaak.  Dit was nooit bedoel om een te wees nie.  Anders sou God nooit van ons verwag het om ons naaste lief te hê soos onsself nie.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...