Tuesday 13 October 2015

Beproewings

Job 37 : 21  “Wees waaksaam!  Draai weg van die kwaad!  God het juis swaarkry oor jou gestuur om jou weg te vat van sonde.”

Beide my en my seun se paspoorte het verval.  Op die internet sien ek dat Binnelandse Sake Saterdae oop is.  Dis ‘n bonus, want nou hoef ek nie by die werk af te vra nie.  Saterdagoggend is ons dou voor dag op.  Dit reën ligweg, maar ons is geestelik voorberei vir ‘n lang dag wat ons geduld tot die uiterste sal beproef.  Min het ons besef hoeveel ons  beproef sou word. 

Ons stap by die winkel in waar hulle ID foto’s neem, net om te hoor dit is nie meer nodig om foto’s saam te neem nie.  Great!  Nou vir Binnelandse Sake.  Die rye is skrikwekkend.  Ek besluit om solank vorms te gaan kry en beur tussen die rye deur.  Ek word gestop deur ‘n veiligheidswag.  “Jy mag nie vorms wegneem nie,”spreek hy my kwaai aan en buitendien moet ek in die ry loop staan.  Ek vra nog of mens jou ID nodig het, maar hy’t genoeg gehad van my.  Een van die wagtendes antwoord dat dit wel nodig is.  My seun is nog nie gewoond om sy ID saam te dra nie, so ons ry huis toe om die ID te gaan haal.

Ons besluit om Paarl toe te ry.  Daar is 2 rye, so ons stel eers vas in watter ry ons moet inval.  Die ry is lank, maar lyk darem minder intimmiderend as Bellville s’n.  Na twee uur se staan saam met my mede-landsburgers, ken ons mekaar al heelwat beter.  Almal is in ‘n gemoedelike stemming, amper soos destyds tydens die 1994 verkiesing.

Elfuur kom ‘n beampte uit.  Sy beveel aan dat ons omdraai, want hulle gaan ons nie kan help nie.  “Wat!?”  Die mense is ongelukkig met hierdie nuus.  Dit is nog twee ure voor hulle toemaak!  Sy weet, maar sy wil net sê, hulle gaan dalk nie eens almal wat binne is kan help nie.  As ons teen half een nog nie binne is nie, moet ons weet dat hulle ons nie kan help nie en dan moet ons haar nie blameer nie.  Die deur word summier in ons gesigte toegemaak. 

Na so ‘n paar sommetjies, besluit ek en my nuwe vriende om te wag.  Dis darem nog lank voor half een.  Nou raak die geselsies selfs meer gemoedelik met die dat ons almal in dieselfde bootjie is.  Kort-kort kom mense uit, maar hulle laat niemand in nie.  Die mense dring aan om die bestuurder te sien.  Tien voor twaalf kom die sogenaamde bestuurder uit.  Hy is niks meer simpatiek nie.  Hy het ‘n lang storie oor min personeel, stadige stelsels en 300 mense wat in 5 ure gesien moet word.  Die mense is oproerig, maar hy hou by sy storie.  Die deur bly toe.  Ons bly koppig staan.

Kwart oor 12 kom die eerste beampte weer uit.  Sy is nou baie moeilik.  Ons moet huis toe gaan.  Iemand wys haar daarop dat sy gesê het ons kan nog tot half een ingaan.  Nog iemand wys haar op die “We Care” woorde op hul plakkate waarop sy antwoord.  “My gesin care ook hoe laat ek huis toe kom.  Gaan huis toe, want ek vat my handsak 13h00 en dan loop ek of julle hier wag of nie.” 

Kyk, ons is almal mense met geliefdes, so ek het begrip vir haar situasie, maar as ek kliënte so behandel by my werk, is ek dieselfde dag nog werkloos.  Die verskil is dat die maatskappy waarvoor ek werk afhanklik is vir hul voortbestaan van hul kliënte.  Binnelandse Sake is van niemand afhanklik nie, inteendeel ons is van hulle afhanklik.  Uiteindelik besef ek dat jy nie teen donderweer kan baklei nie en stap weg.  My kosbare Saterdag is daarmee heen.  Ure se wag en dit vir niks!

Druipstert ry ons huis toe, maar onthou dat ons, ons Telkom internet moet aanvul.  Dis maandeinde en die sentrum se parkeerplek min.  Ek laai my seun af om so lank in die tou te gaan staan en gaan parkeer kilometers weg.  Toe ek uiteindelik by hom uitkom moet ek sien dat Telkom se kantoor toe is.  Die perseel is onder konstruksie.  Volgens die plakaat moet ons na hul tydelike kantoor gaan.  Die tydelike kantoor bestaan uit ‘n toonbank en twee personeellede wat daar sit sonder ‘n rekenaar of ‘n stukkie papier.  Al wat hul doen is om jou te sê dat hul jou nie kan help nie.  Gaan koop lugtyd by Ackermans en skakel dit om in data. 

By Ackermans is daar weereens ‘n lang ry, maar ons is mos nou al braaf genoeg om ons nie deur ‘n ou rytjie te laat afskrik nie.  Na twintig minute verwittig die kassiere ons dat sy ongelukkig nie Telkom lugtyd het nie!  Ek en my seun stap verslae terug na die motor. 

By die verkeerslig is die pyltjie wat jou kans gee om regs te draai buite werking.  Ons kyk vir mekaar en bars uit van die lag. 

“Iewers moes ons gesondig het om so ‘n dag te verdien,” sê my seun.  “Nou moet die Bokke nog net vandag verloor!”


PS:  Die saga duur voort.  Vier dae later en Telkom is steeds van lyn af.  Ek het weer die Binnelandse Sake ry aangedurf en na 3 ure se wagtyd, was ek 4de van vooraf en word ons weereens gewaarsku dat ons kan wag, maar dat daar geen belofte is dat ons ingelaat sal word nie.  Ons is so ongeveer 15 bittereinders, want 15h00 is die ry reeds gewaarsku dat jy moet omdraai, want as jy 16h00 nie binne is nie, , gaan hulle jou nie help nie.  Die vyftien se moral is hoog.  Grappies oor ‘n skrum om in te kom en Habashwe word gemaak en ons besluit saam om te bid.  Gebed en ‘n positiewe houding werk!  Tien voor 4 word ons almal uiteindelik in die uitverkose binnekring toegelaat.  Mission accomplished!  Gedurende die wagtyd in rye, het ek ongelooflike mense leer ken en besef hoe meer verskillend ons is, hoe meer ooreenkomste is daar.  Dalk het God tog ‘n rede gehad met hierdie beproewing.  

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...