Monday 9 November 2015

Onregverdigheid

Levitikus 19:15  “Jy mag nie onregverdig wees in die regspraak nie: jy mag nie partydig wees vir dié wat geen aansien het nie of die vooraanstaande bevoordeel nie

In ‘n onlangse uitgawe van Huisgenoot lees ek een van die hartseerste ware verhale wat ek al ooit gelees het. 

Jare gelede het ‘n gesinslid haar suster in ‘n gestig laat opneem omdat sy swanger geraak het by ‘n plaaswerker.  Volgens hierdie gesinslid het sy dit gedoen omdat haar pa die vrou sou doodslaan as hy sou uitvind van die swangerskap.  Dit het weliswaar in die veertigs gebeur, toe buite egtelike swankerskappe ongehoord was, wat nog te sê oor die kleurgrens heen.  Omdat die vrou reeds 38 en geskei was, wou geen tehuis vir ongehude moeders haar inneem nie.  Die gesinslid het toe die plaaslike dokter oortuig om haar as geestessiek te sertifiseer.

Regverdig dit die daad?  Verseker nie. Gaan dit enigsins aan die situasie verander?  Ongelukkig nie.  Die arme vrou het jare lank in ‘n gestig vir verstandelik gestremdes deurgebring.  In die laat negentigs het die regering van hierdie mense ‘vrygelaat’ omdat hul op hul eie kon funksioneer.  Geen familielid wou haar inneem nie en sy’t haar laaste jare in ‘n vensterlose kamertjie met haar enigste vriendin uit die gestig deurgebring.

Ons kan nie oordeel nie, want ons ken nie die volle verhaal nie, maar ek wonder tog:  “Hoe kan een mens oor ‘n ander se toekoms besluit en daardie persoon se hele toekoms vernietig?”  Die baba is aangeneem en ook sy lewe is onherroeplik beinvloed. 

Een ding weet ek… dat die lewe nie regverdig is nie en dat geregtigheid nie altyd geskied nie.  Hierdie vrou is oorlede sonder dat enige van die familie ooit hul aandeel in die ontsporing van haar lewe erken het nie.

Soms dink ons dat dit wat ons doen die beste is, maar ons besef nie altyd die omvang van ons dade nie.  Niemand het die reg om iemand van hul toekoms en drome te ontneem nie.  

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...