Sunday 8 November 2015

God gaan vir jou deurkom

1 Kronieke 14 : 11  “God het my vyande met my hand gekloof soos water 'n wal kloof!” Dit is waarom hulle daardie plek Grootkloof noem."

In hierdie hoofstuk staar Dawid die onmoontlike in die gesig.  Hy en sy manne moet teen ‘n reuse mag Fillistyne gaan baklei.  Hierdie was anders as toe hy teen Goliat te staan gekom het.  Op die oog af het Dawid se klein groepie manne nie ‘n kans gestaan teen die oormag Fillistyne nie.  Al wat Dawid gehad het was ‘n belofte van God om saam met hulle te gaan. 

Plaas jouself in Dawid se skoene.  Jy is oor vyftig en jy doen aansoek vir werk.  Wat is die kans dat jy daardie pos gaan kry?  Volgens jou bankrekening het jy minder as R100 vir die maand oor.  Hoe op dees aarde kan jy ‘n familie onderhou vir die res van die maand?  Die eienaar van die huis waarin jy woon het vir julle kennis gegee en jy het nêrens om heen te gaan terwyl die einde van die maand nader kruip.  En God verwag jy moet bly glo dat Hy die pad saam met jou stap!  Wat help dit as tyd besig is om uit te hardloop?

Die verskil tussen jou/my en Dawid is dat Dawid God onvoorwaardelik vertrou het.  

Met ‘n ooglopende minderheid, en God se belofte, het Dawid die Fillistyne aangeval… en as oorwinnaar uitgetree.  Ek en jy gee op nog voor ons daardie oormag aangedurf het.  God verwag van ons om te vertrou…teen alle logika in.

Soos God vir Dawid deurgekom het, sal hy ook vir jou deurkom.  Glo… vertrou… moenie moed opgee of dink dit is onmoontlik nie. 

Here, rig asseblief my voetstappe… versterk my geloof terwyl ek die onmoontlike vreemde aandurf.



No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...