Wednesday 9 December 2015

Die gedruis van branders

Psalm 42 : 7  waar die waters teen mekaar raas en u waterstrome bruis. U het golf na golf oor my laat slaan.

Liewe mens, God wil ‘n vloed van Sy krag en genade oor jou lewe laat spoel.  Nie ‘n  stroompie of ‘n riviertjie nie, maar ‘n vloed.  Dit beteken ‘n vloed van hernuwing, genesing, vrymaking, opheffing.

Moenie in ‘n groef verval en op klein veranderinkies hoop nie.  Moenie vir een oomblik dink waar jy jou nou bevind, is waar jy die res van jou lewe gaan deurbring nie.  Groot verskuiwings is in die vooruitsig vir jou.  Die veranderings gaan lewensveranderend wees en ek hoop jy is gereed hiervoor.  Begin jouself geestelik voorberei vir groot dinge wat op die punt staan om te gebeur. 

Voor jou geestesoog, sien ‘n tsunami, nie een van vernietiging nie, maar een wat vir jou ‘n pad oopkloof waar dit onmoontlik gelyk het.  Sien hoe God al die onaangename gebeurtenisse van die afgelope jaar uitwis met een brander van vernietiging van die bose.  Hy wil vir jou ‘n skoon blaadjie gee om op te begin. 

Onlangs het ons gebid vir reën en kort daarna was daar oorstromings.  Net so is daar dikwels droogte in ons lewens, maar wanneer God die sluise van die hemel oopmaak, vee dit alles weg en bring dit nuwe lewe.  Ons is net nie altyd gereed vir die oorvloedige hand waarmee God uitdeel nie.  As ons damme gebou het terwyl ons gebid het, sou daar nie soveel skade aangerig gewees het nie, maar ons wil bid en hoop ten beste op so ‘n doutjie van verligting.


Dit waarna jy smag, dit waarvoor jy bid, dit waarvoor jy hoop… dit staan op die punt om te gebeur.  Hoor jy die gedruis van die waters?

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...