Tuesday 8 December 2015

Alles werk ten goede mee

Romeine 8 : 28  Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is

Op hierdie presiese oomblik is God besig om agter die skerms te werk.  Jy mag dalk mismoedig gewag wees omdat jy bid en niks gebeur nie, maar ek verseker jou dat God nie handjies gevou sit terwyl Hy kyk waardeur jy gaan nie.   Die situasie mag dalk onmoontlik lyk of jy mag dalk erg bekommerd wees dat jy uit tyd uit hardloop, maar jy hoef nie bang te wees nie, want God is altyd betyds.

Ek moes vandag ‘n spesifieke bedrag geld betaal en ek het dit eenvoudig nie gehad nie.  Oor die naweek bring my broer vir geld en vanoggend op pad werk toe kry ek ‘n sms vir geld wat in my rekening inbetaal is.  Vrydag het ek geweet ek moes die geld vandag betaal.  Stel jou dus voor dat ek ‘n naweek binnegaan en nie ‘n benul het waar ek Maandag die nodige fondse sal vind nie.  Geld val tog nie uit die lug uit nie, veral nie oor naweke nie.  Wel, dit het in my geval.  Min het ek geweet dat Hy in die harte van mense besig was om te werk en dat hul Sy roepstem sou gehoorsaam.

Ek vra al hoe lank vir ‘n uitkoms, maar God wag tot op die laaste nippertjie voor Hy voorsien.  En dit is tog al wat nodig is – dat Hy wel deurkom vir ons.  Die geheim is om aan te hou glo in die onmoontlike.


Dit waarvoor jy bid is dalk heeltemal anders, maar die beginsel bly dieselfde.  Al sien jy niks gebeur nie, kyk met oë van geloof.  God sal alles ten goede laat meewerk.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...