Sunday 13 December 2015

'n Stukkende beursie

Haggai 1 : 6  Julle het baie gesaai, maar min geoes; julle het geëet, maar nie genoeg gekry nie; julle het gedrink, maar dors gebly; julle het klere aangetrek, maar nie warm geword nie; julle is soos 'n dagloner wat sy loon in 'n stukkende beursie steek.

God praat met die volk oor die heropbou van die tempel.  In Haggai lees ons dan dat mense reken die tyd om die tempel te herbou het nog nie aangebreek nie, selfs al het Cyrus dit al agtien jaar voor dit beveel.

God gebruik Cyrus om vir hulle ‘n taak te gee, maar hulle glo die tyd is nie reg nie.  Hulle sal dit later doen.  Jy kan jou voorstel hoe hulle, net soos ek en jy geldige verskonings sou uitdink hoekom die tyd nog nie gereed is nie… ons is te besig,  die ekonomie… ander belangriker dinge wat wag…  En so stap die tyd aan, agt jaar later.   Ongehoorsaam?

As jy ooit gewonder het wat gebeur as ons nie doen wat God van ons verwag nie, is die antwoord in vers ses.  Ons saai, maar daar’s amper niks om te oes nie, ons drink water, maar ons dors word nie geles nie, ons steek ons geld in ‘n sak met ‘n gat in..  Is dit dan ‘n verrassing hoekom dit met ons gaan soos wat dit gaan?  Is ons nie in hierdie situasie omdat ons nie na die stem van God wil luister nie?  Vers sewe laat jou nogal nadink:  “Neem ter harte wat met julle gebeur.”

Is daar iets wat God van jou verwag om te doen wat jy voortdurend uitstel?  Ons kan uitstel of ons doof hou, en voortploeter in omstandighede, of ons kan besluit om gehoorsaam te wees en skouer aan die wiel te sit.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...