Thursday 11 February 2016

Vrees

Eksodus 15:16  Vrees en angs het hulle oorval, u magtige dade het hulle laat versteen toe u volk deurtrek

Vrees is die vyand se beste wapen.  Elke keer wat ons erken dat ons bang is, glimlag die vyand breed, want dan weet hy dat hy in beheer is. 

Jy droom daarvan om jou eie besigheid te begin.  Elke dag groei die droom.  Jy doen navorsing, maak sekere berekeninge, praat met ander… Iemand maak ‘n opmerking en jy begin twyfel… Ewe skielik lyk die idee ‘n bietjie lendelam en het jy nie meer vertroue daarin nie.  Jy raak bang en sien van jou idee af.  Die vyand het gewen.

Jy wil ‘n meisie vir die matriekafskeid ‘skiet’. Dae lank loop en beplan jy jou benadering.  Die dag breek aan dat jy tot aksie oorgaan, maar jou moed begewe jou, want jy is te bang sy sal nee sê.
Jou nuwejaarsvoorneme is om jou bestuurderslisensie te kry.  Jy maak ‘n afspraak met iemand om jou lesse te gee.  Die eerste les verloop nie goed nie. Jy is te bang om met die lesse voort te gaan, want dit lyk nie asof jy in staat is om te bestuur nie.

Ek is seker daarvan jy kan aan nog voorbeelde dink waar jou moed jou onlangs begeef het.  Keer op keer is dit omdat jy bang is jy misluk, of jy voel dat jy nie goed genoeg is nie, of selfs dat jy dit nie verdien nie. 

Vrees is ‘n gevoel wat jou emosies aantas.  Dit is waar ons die kwesbaarste is.  Wanneer jy egter kies om op God te vertrou, eerder as op jou eie kragte, sal vrees verdwyn.


Vandag wil ek jou moed inpraat.  Moenie toelaat dat vrees jou verswak of terughou nie.  Neem daardie stap in geloof, want jy is nie alleen nie.  God is vir jou en by jou en Hy sal nie toelaat dat jy misluk nie.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...