Tuesday 1 March 2016

Jy kan niks saamneem nie



Prediker 5 : 14 ‘n Mens kom kaal die wêreld in, so gaan hy ook die wêreld uit. Daar is niks wat jy kan saamvat vir al sy moeite nie.

As kind is ek geseën met BAIE poppe.  My gunsteling was my bruidspop… een waarvoor ek baie lank moes wag. En dan was daar my praat-pop.  As jy die toutjie agter haar nek getrek het, het sy gesê:  “My naam is Marietjie.”  Met al die poppe en pragtige beddegoed en gordyne met ballerinas op, het ek ‘n kamer gehad waarvoor ek baie lief was… so lief dat ek saans lê en dink het dat ek eendag met kamer en al begrawe wil word.  

Noodloos om te sê, ek het nog nie besef dat jy niks kan saamneem nie.

Dit is in meeste mense se natuur om hul lewe te wil verbeter.  Gemeet aan kapitalistiese standaarde is daar niks mee verkeerd nie.  Daar is ook praktiese oorwegings.  As die huis te klein raak, moet jy noodwendig uitkyk vir ‘n groter huis.

Waar ons egter die pot dikwels mis sit, is die feit dat ons nie besef ons gaan ‘n lewensstadium bereik waar ons weer moet afskaal nie.  So gaan ons groter en groter, met meer en meer ‘goed’ wat ons koop om die leë spasies te vul.  Dis alles goed en wel terwyl die familie groei, maar daar kom ‘n tyd dat hul die nes verlaat en dit is dan dat jy ontnugter word.  Die groot plek raak ‘n las om skoon en in stand te hou.  Die goed wat jy so sorgvuldig oor die jare uitgesoek het, waarop jy soveel geld uitgegee het, wil niemand regtig hê nie.

Om jou omstandighede te verbeter en vooruit te gaan, is nie verkeerd nie. Ons moet woeker met die talente wat ons ontvang het en ons mag nie die muntstuk wat God vir ons gee gaan begrawe nie.  Maar ons moet besef dat besittings ons nie in die hemel kan kry nie.  Daar moet ‘n balans wees tussen geestelike en materiële vooruitgang. 
 
Ek het darem uiteindelik grootgeword en van my poppe afgesien, wel van almal, behalwe Marietjie.  Sy beklee vandag ‘n ereplek in my huis, maar ek besef ek kan niks saamneem nie – nie eens my geliefde pop nie.

No comments:

Post a Comment

Inligting

Hierdie blog word reeds sedert 2011 bedryf.  Ek het regtig getrou probeer om gereeld dagstukkies te publiseer.  Daar is egter 'n tyd waa...